OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het Bennedette Landman (29) van Oudtshoorn te beurt geval.
Sy is gekies as semifinalis vir Mev. Heelal Suid-Afrika. Landman, 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, se groot droom was altyd om Mej. SuidAfrika te word, maar weens omstandighede kon sy nooit haar droom verwesenlik nie.
"Hierdie is werklik 'n droom wat bewaarheid word. Dit voel nog baie onwerklik en ek is geweldig opgewonde en terselfdertyd effe op my senuwees oor die geleentheid."
Landman is sedert haar kinderdae in verskeie modelkompetisies gekroon en is ook verlede jaar as eerste prinses in Mev. Eden-SA aangewys. Sy is in 2015 getroud en woon in Laingsburg saam met haar man en twee dogters van vier en agt.
"Ek wil nie net vir my dogters 'n voorbeeld wees nie, maar ook vir ander meisies. Ek wil vir hulle wys dat dit nie saak maak wat jou omstandighede is nie, jy kan bo uitkom, jy moet net wil. Ek het swaar groot geword en ken moeilike omstandighede, maar dit het my nie gekeer om my drome na te streef nie."
Volgens haar ondersteun dié jaar se Mev. Heelal geweld teen vroue en kinders. "Dit is ook iets wat my baie na aan die hart lê. Ek wil hê vroue en veral jong meisies moet weet dat geweld en drankmisbruik nie hul hele lewenspad bepaal nie, maar dat jy self bepaal waarheen jy op pad is."
Landman sê ook dat sonder haar ma as voorbeeld van vrouwees sou sy nie sover gekom het nie. "My ma is 'n ongelooflike sterk vrou. Sy is 'n regte fighter en ek hoop om so 'n voorbeeld vir vroue wêreldwyd te word." Die finaal van Mev. Heelal Suid-Afrika vind op 24 Julie in Johannesburg plaas.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'