OUDTSHOORN NUUS - Dit is gewoonlik slegte nuus as 'n sakeonderneming se eienaars besluit om die dorp, en die land, te verlaat, want gewoonlik laat dit 'n leemte in die verhouding wat hulle oor jare met klante opgebou het.
En, dit was presies die dilemma waarin Jaco Vorster en Johan van Heerden, eienaars van Wes-Handelshuis, Camp Roadhouse en Camp Bakery hulle bevind het toe die grafiese ontwerpspan waarmee hulle reeds vir sewe jaar 'n pad stap, aankondig dat hulle België toe verhuis.
Jaco vertel die eienaars van Grand Street Studios, Jurgen Cappelle en Melissa Wentzel, was van die begin af die dryfveer agter die bemarkingskonsep van sy en Johan se besighede.
"Toe Jurgen ons 'n ruk gelede laat weet het dat hy en Melissa België toe verhuis, het ek en Johan besef ons kan nie die pad wat ons met hulle geloop het bloot afskryf nie. Verder was dit ook vir ons belangrik om die databasis en suksesse van Grand Street Studios wat 16 jaar gelede deur Hans van der Veen begin is, vir Oudtshoorn te behou, en al hoe ons dit kon doen, was om die onderneming oor te koop."
Jurgen beaam Jaco se sentiment. "Dit was vir my 'n baie moeilike besluit om na België terug te keer, want ek wou nie ons kliënte wat ons oor die jare ondersteun het net so los nie. Ek het egter nie 'n ander keuse nie en dit was vir my 'n groot verligting toe Jaco en Johan aanbied om die besigheid oor te neem en om Oudtshoorn-mense aan te stel om daarmee voort te gaan."
Volgens Jurgen vertrek hy reeds volgende week na België, maar Melissa bly nog 'n ruk aan om die nuwe ontwerpers wat aangestel is touwys te maak. Die feit dat sy en Jurgen België toe gaan, beteken egter nie dat hulle nie meer by Grand Street Studios betrokke gaan wees nie.
"So maklik gaan hulle nie wegkom nie," het Jaco Dinsdag gesê. "Ons het met hulle ooreengekom dat hulle steeds sekere dienste gaan lewer al woon hulle duisende kilometer weg." Hulle neem die onderneming op 1 Maart oor.
Volgens Jaco en Johan gaan dit hier oor meer as bloot die aanskaf van nog 'n onderneming. "Ons is nog altyd positief oor Oudtshoorn en hierdie is ons manier om by te dra tot vertroue in die dorp en ook om aan mense van die dorp werksgeleenthede te gee, eerder as om toe te laat dat die dorp 'n waardevolle besigheid en kundigheid verloor en besigheidsverhoudings wat oor 16 jaar gesmee is, tot niet gaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'