TUINROETE | KAROO NUUS - Ek lek nou al my lippe af want dis weer tyd vir heerlike kerrievis en hot cross buns!
Paasfees is hier en terwyl daar vanjaar nie oor-en-weer onder families bakkies kerrievis uitgedeel gaan word sodat almal mekaar se disse kan proe nie, gaan die algehele inperking my nie keer om vanjaar vir my gesin 'n bak of twee te maak nie.
Veral nie na verlede jaar se reusesukses met 'n resep wat ek aanlyn op 'n bekende nuusblad gekry het nie.
Die resep was vir my die naaste aan hoe my ma dit maak, en haar kerrievis is enige dag 'n wenner. Vir 'n beginner soos ek, moes ek 'n resep vind, 'n behoorlike een waar die bestanddele afgemeet word.
Sien my ma is al so gesout, sy werk hom na smaak. Ek moet nog daar kom.
So, ek het Fatima Kenny van Kaapstad se Kaaps-Maleise kerrievisresep gevolg wat redelik maklik is en hom net so klein bietjie aangepas na my eie smaak. Net so klein bietjie. Ek ken Fatima Kenny van geen kant af nie, maar haar resep is beslis ook 'n wenner.
Bestanddele
- 15 stukke vis (verkieslik stokvis)
- 6 tot 8 uie (opgesny in ringe)
- halwe koppie water
- 1 koppie asyn (bruin asyn)
- 5 lourierblare
- 1 teelepel peperkorrels
- 1 teelepel koljandersaadjies
- halwe koppie suiker
- sout na smaak
- 2 eetlepels geroosterde masala /kerriepoeier / ingelegde vismasala
- 2 teelepel borrie
- klein bietjie koekmeel om vis te bedek
- olie om vis mee te braai
- 1 eetlepel meel gemeng met 'n eetlepel kouewater
- 1 tot 2 eetlepels fyn appelkooskonfyt
Metode
- Volgens die resep moet jy die vis geur met sout en borrie, en dit dan week in koekmeel.
- Braai die vis in die pan met die olie oor medium hitte vir so twee minute aan 'n kant totdat dit gaar is en plaas dit dan eenkant in 'n skoon bak.
- Kook die water, asyn, lourierblare, peperkorrels, koljandersaadjies, borrie, masala en 'n opgehoopte teelepel sout in 'n groot pot oor hoë hitte.
- Sodra die mengsel kook, gooi jy die uie (wat in ringe gesny is) in.
- Voeg 'n halwe koppie suiker by.
- Kook vir sowat agt minute oor medium hitte totdat al die geure lekker met die uie gemeng het.
- Gooi die meel-en-water-mengsel by tot daar waar die sous dikker word.
- Wanneer die sous dik word, kan jy die appelkooskonfyt byvoeg en inroer.
- Haal die mengsel van die stoof af en gooi dit oor die gebakte vis.
Wenke:
- Moenie die uie te lank kook nie, volgens Fatima moet dit nog "bietjie kraak hê".
- Suiker speel 'n belangrike rol - dit bring die soet-stuur smaak van die dis uit.
- Die kerrievis, en daarvan kan ek getuig, proe op sy beste as hy twee dae in die yskas gestaan het. Dis in dié tyd dat die sous en die vis, met al die heerlike geure en speserye, mekaar vind en die dis tot sy reg kom.
- My wenk: Maak seker jou sous is genoeg, jy gaan dit nodig hê as jy jou hot cross buns daarin wil doop. Geniet dit en ek wens elkeen van julle 'n geseënde Paasfees toe.
- Die paasbolletjie is deel van baie mense se Paasfeesvieringe. Sally Booysen gebruik die volgende resep om haar familie elke Paasnaweek te trakteer.
Eenvoudige paasbolletjieresep
Beslag
- 1 kg koekmeel
- 10 ml sout
- 10 g kitsgis
- 85 ml suiker
- 15 ml fyn kaneel
- 15 ml gemengde speserye
- 90 ml botter, gesmelt
- 200 ml warm melk
- 1 eier
- 250 ml rosyne
Kruise
- 60 ml meel
- 15 ml olie
- 30 ml water
Glasuursel
- 100 ml water
- 50 ml suiker
Metode
- Sif meel, sout, gis, suiker en speserye saam in ’n groot bak.
- Meng botter, melk en eier en voeg by droë bestanddele.
- Gooi nog warm melk by indien nodig en meng tot ’n stywe, kniebare deeg.
- Knie goed vir 8 tot 10 minute of tot elasties.
- Voeg rosyne by en knie tot deurgemeng.
- Plaas deeg in ’n bak wat met olie gesmeer is en draai toe in kleefplastiek of ’n stukkie melkdoek wat klam gemaak is met water.
- Los in ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume - sowat 45 minute.
- Knie die deeg af en verdeel in 12 porsies.
- Rol elkeen in ’n netjiese bal.
- Plaas ses balle in ’n 20 x 20cm-pan (jy’t 2 panne nodig) en laat rys vir 20 minute op ’n warm plek, weer tot dubbel die volume.
- Verhit oond tot 190°C.
- Vir die kruise, meng meel, olie en water tot ’n stywe pasta - voeg nog water by as dit te styf is.
- Plaas mengsel in ’n spuitsak en spuit netjiese kruise oor die bolletjies.
- Bak vir 20 tot 30 minute of tot goudbruin.
- Terwyl die bolletjies bak, kook jy die bestanddele vir die glasuursel saam vir 10 minute. Verf dit oor die bolletjies sodra hulle uit die oond kom.
Geniet dit en ek wens elkeen van julle 'n geseënde Paasfees toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’