SUID-KAAP NUUS - Met damvlakke in die streek op minder as die helfte te midde van die voortslepende droogte, is dit elke inwoner se plig om water omsigtig te geruik en waar moontlik te hergebruik.
Trapsuutjies-projekte van Oudtshoorn, 'n beslote korporasie wat die Waterwise Ways-projek vir die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) implementeer, het bewys dat water met min koste gespaar en herwin kan word.
Susan Botha bedryf die projek wat uit twee hoofaktiwiteite bestaan, naamlik Fix n Learn en die Dysselsdorp-vleilandprojek.
"Die Fix n Learn-projek is daarop gemik om deernishuishoudings se waterverbruik te optimaliseer," sê Botha. "Deur die ou, groot toiletwaterbakke te vervang en lekkende krane en waterpype te herstel, word tot soveel as die helfte minder water gebruik. Huishoudings word ook geleer om self lekplekke te herstel."
Die De Rust-vleilandprojek wat in 2017 van stapel gestuur is, was die voorloper van die huidige Dysselsdorp-projek. By die De Rust-rioolwerke is papkuil en fluitjiesriet op drywende eilande bestaande uit leë 2 liter-koeldrankbottels in 'n sak van skadunet geplant. Die plantwortels wat in die water hang onttrek skadelike rioolafvalstowwe uit die water wat dit geskik maak om in 'n vleiland vry te laat.
By die Dysselsdorp-vleilandprojek word drywende eilandstrukture van bamboes of rioolpype waaraan papkuilplante vasgemaak word, gebruik om afvalstowwe uit die rioolwater te onttrek.
Volgens Botha is die Oudtshoorn-munisipaliteit een van net 'n paar van die 880 munisipaliteite landwyd wat van so 'n kunsmatige vleiland gebruik maak om rioolwater te suiwer.
"Projekte soos hierdie skep volhoubare werkgeleenthede en die strukture bestaan uit natuurlike produkte wat water herwin sodat dit in die natuur teruggeplaas kan word. Indien toetsresultate wys dat chlorinering uitgeskakel kan word, kan plaaslike ekonomiese ontwikkeling ook gestimuleer word omdat die skoner water vir beperkte landbou- en ander inisiatiewe gebruik kan word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'