KAROO NUUS - Los dwelms uit, hulle maak jou dom. Dit was die polisie se boodskap aan die leerders van Towerkop Primêr, die grootste skool in Kannaland.
Konstabel Bennet de Wee het leerders aan sy lippe laat hang toe hy oor die gevare van dwelms gepraat het. De Wee het dagga, Mandrax en tik as die grootste euwels op die dorp beskryf.
Leerders is geleer dat dwelms jou denkvermoë aantas en tot 'n verskeidenheid longsiektes kan aanleiding gee.
Die leerders se aandag is daarop gevestig dat dwelms die veiligheid van onskuldige leerders bedreig en dat onaangekondigde deursoeking van skooltasse gedoen gaan word.
“Onthou as jy ‘n rekord het van dwelmmisbruik, gaan dit jou toekoms opmors. Jy gaan nie werk kry as jou vingerafdrukke deur polisie geneem is nie. Wees dapper en staan sterk teen dwelms. Groepsdruk is nie ‘n verskoning nie. Ons gaan al ons skole dwelmvrye sones maak.”
Een van die leerders het later gesê: "Ek wil ook soos konstabel De Wee word. Almal wat verkeerd doen is bang vir hom. Hy vang sommer al die tik in sakkies en spit die dagga boompies self uit. Ek gaan ‘n kolonel word.”
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'