OUDTSHOORN NUUS - Die eerste bekendstelling van een van drie nuwe digbundels wat pas by Naledi verskyn het, is verlede Woensdagaand op Oudtshoorn gehou.
Die digbundel, Die jaar toe pa... deur Hannes Visser (redakteur van Oudtshoorn Courant), is by die Klein Karoo Ostrich Emporium gehou en bygewoon deur ongeveer 70 gaste.
Visser het die agtergrond van die bundel, wat in 1967 afspeel en outobiografies is, verduidelik.
Daarna is gedeeltes daaruit oorgelees en aangevul met musiek deur die plaaslike musikant Marisca Rain. Liedjies wat sy met kitaarbegeleiding gesing het, was onder meer Harlekyn, Imagine, Hallelujah en Halala Afrika.
Die liedjies is spesifiek gekies as aansluiting tot 'n aantal van die gedigte wat Visser voorgelees het.
Die jaar toe pa... handel oor Visser se kinderlewe rondom die tyd dat sy pa oorlede is.
Maar dit is nie die enigste inhoud nie; die bundel vertel ook die verhaal van die politieke bestel en die hoogtepunte van die jare sestig kort ná die moord op dr. Hendrik Verwoerd en die jaar toe die wêreld se eerste hartoorplanting deur die chirurg dr. Chris Barnard gedoen is.
Die verse is volgens Daniël Hugo, bekende radioman, vertaler en digter, "uiters toeganklike digkuns". Hugo was ook die redakteur van die bundel.
Gaste wat die aand bygewoon het, was dit eens dat die gedigte die leser diep tref. Visser het gesê die skryf van die gedigte was 'n emosionele proses, maar dat dit sy manier is om vir mense te sê om vrede te maak met wie hulle is. "Ons kan nie kies waar ons vandaan kom nie, ons kan alleenlik kies waarheen ons wil gaan."
Hy het ook gesê hy hoop dié bundel sal mense innooi om méér gedigte te lees. "Die digkuns is nie bedoel vir 'n uitverkore groepie nie, dit is vir almal."
Visser en Marisca Rain (Visagie) tree by drie verdere bekendstellings op: George (16 Mei), gevolg deur Prins Albert (25 Mei) saam met Danië Hugo, en die Calitzdorp Winterfees (15 Junie). Visser en Naledi bied ook ook bekendstellings op Mosselbaai (24 Mei) saam met Cornelle Carstens, op Stellenbosch (1 Junie) saam met Daniël Hugo en in Bloemfontein (8 Junie) saam met die digter Gilbert Gibson.
Oes van topdigkuns
Die ander twee bundels wat Naledi onlangs gepubliseer het, is Stof en ster deur die bekroonde dramaturg Pieter Fourie en Donkerwerk deur Nini Bennett. Naledi is as uitgewer besig om 'n reusebydrae tot die Afrikaans digkuns te lewer en hulle 2019-digbundel-oes sluit tot dusver nog drie puik bundels in.
Later in Mei verskyn Alchemie van die muse deur Pieter Hugo en Nuwe vrese deur Willem van der Merwe, en in Junie Chrisalis deur Christo van der Westhuizen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'