"Die afgelope 18 maande is probeer om die virus te stop deur die volstruise uit te slag," het Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van Landbou, hoofspreker tydens die opening van die Agri Herold-Landboufees gesê.
"Ons moet nou eerlik met mekaar wees en sê dit het nie gewerk nie. Ons slag uit, maar die virus vlieg nog bokant ons koppe rond. Ons moet alternatiewe metodes op die tafel sit. Die volstruis raak 'n bedreigde spesie."
Volgens Van Rensburg was dit die boodskap wat hy op 'n noodvergadering op 31 Julie aan die Nasionale Departement van Landbou oorgedra het.
"Een van die alternatiewe is om gebiede soos die Noord-Kaap, wat vry is van die virus, skoon verklaar te kry sodat uitvoere kan hervat.
"Volstruise - en veral broeipare - moet ook teen die virus ingeënt word ten einde teelmateriaal behoue te laat bly."
Landbou het sekerheid nodig, het hy gesê met verwysing na die nasionale regering se traagheid om 'n oplossing te help vind vir die krisis waarin die volstruisbedryf hom bevind. "As ons sekerheid het, is ons positief, want dit trek beleggers, wat weer werk skep.
"Boere vra net 'n paar woorde: hulle wil van die leiers in Pretoria hoor dat hulle belangrik is vir ons land. 'n Paar eenvoudige positiewe woorde sal 'n reuseverskil maak."
Van Rensburg het Agri Herold geprys vir die entoesiasme en energie waarmee hulle die fees aanbied. "Weeber Truter en sy span se positiewe gesindheid is soos die inkomende gety wat al die bote in die hawe lig," het hy vir die feeskomitee gesê.
Hy het ook 'n boodskap van Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, vir die landbouers gebring: "Sy sê dankie vir wat julle vir ons doen om voedsel te produseer en werk te skep."
Van Rensburg, Truter, Jan Weys van Tuinroete Agri, op wie se perseel die fees aangebied word, Hanlie Kroese van die hoofborg Santam Landbou, en Jurgens Meyer van Nedbank, wat vanjaar gesorg het vir 'n kitsbank op die feesterrein, het elkeen 'n boom op die feesterrein geplant.
"Om 'n boom te plant is simbolies van hoop, want jy sal tog nie 'n boom plant as jy nie hoop hy gaan groei nie," het Van Rensburg gesê.
* Provincial MEC for agriculture, Gerrit van Rensburg, says that alternative ways have to be found to combat the H5N2 virus which has all but ruined the ostrich industry. Van Rensburg spoke during the official opening of the Herol Agricultural Festival last week end. He has appealed to national government to get involved and assure farmers that their plight is being heard. "Alternatives have to be found, the ostrich is fast becoming an endangered specie," he said.

Tydens minister Gerrit van Rensburg (middel) se besoek aan die Agri Herold-landboufees het hy een van 'n hele aantal bome op die feesterrein geplant. Weerskante van hom is Hanlie Kroese (Santam Landbou), Weeber Truter (Agri Herold), Jan Weys (Tuinroete Agri) en Jurgens Meyer (Nedbank) wat ook elkeen 'n boom op die feesterrein geplant het. Santam-landbou was die hoofborg van die fees en Tuinroete Agri borg elke jaar die terrein. Foto: Tisha Steyn