ZOAR NUUS - Die Saint Moses Kerskoor wat 14 jaar gelede in Zoar gestig is, is besig om te groei en groot sukses in sangkompetisies te behaal.
Hierdie nie-winsgewende organisasie waarvan James Booysen 'n lid is, het tans 70 lede en is geregistreer by die Civic Country Christmas Band-unie. Die orkes se laaste sangkompetisie was die afgelope naweek in Belhar Kaapstad.
Booysen, woordvoerder van die orkes, noem dat die primêre doel van die koor is om die jeug nie net musikaal, maar ook geestelik op te voed.
Booysen noem dat werkloosheid en die feit dat baie lede seisoenale plaaswerkers is die finansies van die orkes baie kniehalter, maar egter nie hul gees demp nie.
Die koor het selfs sukses behaal vir bes geklede koor sowel as in die Tiny Tots-afdeling: (ouderdomme 4 tot 10 jaar).
Saint Moses het hierdie naweek teruggekeer met 15 trofeë en het met trotse harte 'n oorwinningsrit deur Zoar se strate geneem.
Breyton Johannes Vervoer is een van die grootste ondersteuners van die koor en skroom nie om die koor gratis na kompetisies te vervoer nie.
Freek Swarts, een van die stigterslede en leier van die koor se huis is die plek waar die koor tans oefen aangesien daar nie 'n formele plek vir oefening beskikbaar is nie. Desnieteenstaande struikelblokke, mik die koor net na beter en hoër hoogtes, sê 'n trotse Booysen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’