OUDTSHOORN NUUS - Een van die woordvoerders van die Oudtshoorn-polisie, sersant Gretchen Micheals, is tans in selfisolasie na sy vroeër die maand met Covid-19 gediagnoseer is.
Micheals sê haar diagnose het as 'n groot skok gekom.
"My pa, Eric Welman, is in Junie oorlede. Hy is vroeër die jaar met kanker gediagnoseer en het ook aan Parkinsons se siekte gely. Dit was vir ons as familie 'n reuseskok en 'n groot trauma om te verwerk en net toe ek dink als is okay toe word ek met Covid-19 gediagnoseer. Dit is vir my geweldig moeilik omdat my kinders nog klein is en ek nie by hulle kan wees nie. Ek kan ook nie my ma in die moeilike tyd bystaan nie. Sy en my pa was 53 jaar getroud."
Micheals sê ten spyte van die hartseer en die emosionele pyn waardeur sy gaan, gaan dit elke dag 'n bietjie beter met haar.
"Aan die begin het ek vreeslik kopseer en lyfseer gehad en ek was baie naar, maar my koors was normaal. Die kopseer en lyfseer was vir my die ergste, maar dit gaan darem elke dag 'n bietjie beter. Ek is net naar in die aand."
Micheals sê sy drink paracetamol en vitamiene.
"Die kombinasie van gemmer, kookwater, heuning en suurlemoensap werk soos 'n bom."
Sy sê sy wil egter net mense 'n bietjie moed in praat.
"Almal ervaar die pandemie waardeur ons gaan anders. Die wêreld gaan staan nie stil omdat hier 'n dodelike virus is nie. Ons almal ervaar steeds moeilike tye en hartseer tye. My boodskap aan mense is dat hulle positief moet bly en nie dat die slegte dinge hulle onderkry nie. Ekself is een van die dae weer terug by die werk en dan pak ek als volstoom aan. Wees dankbaar vir diegene wat jou ondersteun in moeilike tye en sê dankie dat jy hulle het. Ons is familie is geweldig dankbaar vir die wat ons ondersteun het en steeds doen."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'