Gallery Video
CALITZDORP NUUS EN VIDEO - Meer as 2 000 besoekers het tydens die Calitzdorp Winterfees die afgelope naweek, die feesterrein by die stasie besoek. Die Winterfees is Vrydagaand met 'n ete van die Calitzdorp-gemeenskapskas in die goedereloods begin.
Die Gemeenskapskas is 'n organisasie wat geld insamel en vir gemeenskapsprojekte aanwend. Die tema van vanjaar se fees was 'Water' en as simbool van die tema was 'n meerminvlot, wat uit plastiekbottels en afvalmateriaal gemaak is, Saterdagoggend deel van 'n optog deur die dorp.
Die vlot is deur 'n professionele stelbouer en kunstenaar, Marcia Vermaak, ontwerp en met die hulp van plaaslike skoolkinders gebou. Daar is ook met hierdie projek gepoog om die publiek bewus te maak van hoe plastiek herwin kan word.
Volgens die organiseerders van die fees het inwoners die fees uitstekend ondersteun.
Toegang tot die feesterrein, waar 'n hele aantal stalletjies en vermaak was, was gratis.
Die stasie was weer die hooffeesterrein. Foto's: Hannes Visser
Een van die dansgroepe wat aan die Borrel-talentkompetisie deelgeneem het.
Dit was veral die Borrel-kompetisie waar inwoners hulle sang en danstalent kon deel, wat groot belangstelling gelok het. Daar is gefokus op individue se talent in veral sang en dans. Van Rieldansgroepe tot hip-hop dansers en sangers het die toeskouers deur die dag vermaak.
Feesgangers is gratis met Klokkie se tjoe-tjoe tussen die feesterrein en die dorp vervoer. Saterdagaand is 'n straatpartytjie in Van Riebeeckstraat gehou waartydens Purple Domino tot laataand vir dansmusiek gesorg het.
Kyk 'n video hieronder:
Die gewilde dominokompetisie het inskrywings van meer as 50 spanne gekry wat hoofsaaklik uit werkers van die dorp se wynkelders bestaan het. Rico Tiemie en Petrus Coetzee was die algehele wenners. Ysige weer en 'n sterk wind het Sondag tot laer besoekersgetalle gelei, maar die organiseerders is dit eens dat die fees baie geslaagd was.
Lees 'n vorige artikel: Calitzdorp winterfees in volle swang
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'