OUDTSHOORN NUUS - Die tussenverkiesing van 9 Desember is 'n uiters belangrike een vir die DA as hulle beheer van Oudtshoorn wil behou.
Daar is tans drie vakatures op die raad nadat drie DA-raadslede, Ewa Fortuin, (wyk 4), Hendrik Ruiters (wyk 5) en Nellie Soman (wyk 10, Dysselsdorp) verlede maand bedank het.
Die DA het reeds hulle kandidate vir die tussenverkiesing op 9 Desember bekend gemaak. Hulle is Fillies September (wyk 4), Jacky Meyer (wyk 5) en Ruben Bosman (wyk 10). Die ANC-hoofsweep op Oudtshoorn, Henry Jongilizwe Tyatya, het Dinsdag gesê die ANC se kandidate is nog nie bekend nie.
Volgens hom kan enige persoon in die drie wyke hulself verkiesbaar stel, al is hulle nie tans lid van die ANC nie.
Mense wat hulself as kandidate wil voorstel kan dit op een van die openbare vergaderings doen wat in die onderskeie wyke gehou sal word. Tyatya kon nie sê presies wanneer die vergaderings gaan plaasvind nie, maar hy het aangedui dat dit reeds so vroeg soos volgende week sal wees.
Sou die DA nie die drie wyke verower nie sal dit beteken dat hulle op die koalisie mat Sarco en Icosa aangewese sal wees vir ondersteuning.
Dit kan beteken dat Oudtshoorn dan weer soos met die vorige bedeling, toe miljoene rande se skuld opgehoop het, aan die genade van 'n kleiner party oorgelewer sal word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'