OUDTSHOORN NUUS - "Die groot aantal familielede wat die afgelope naweek (27 tot 30 April) die elfde Wicomb-familiesaamtrek by die Calitzdorp-spa bygewoon het is 'n duidelike teken dat daar groei is. Ons het baie bereik en kan met reg trots wees daarop," het die oudste familielid, die 97-jarige Ampie Wicomb van Oudtshoorn, Maandagoggend met die afsluiting van die saamtrek gesê en die belangrikheid en waarde van 'n familiebyeenkoms beklemtoon.
Ongeveer 250 Wicomb-familielede van heinde en ver het die saamtrek bygewoon.
Die hoogtepunt was die dankseggingsdiens Sondagoggend, gelei deur Graham Wicomb van Kaapstad, waartydens hulde gebring is aan die familie se voorouers en kerse aangesteek is ter nagedagtenis aan hulle en familielede wat sedert die 10de saamtrek in 2016 oorlede is.
Die tweede oudste in die familie, Phillippina Wicomb van Oudtshoorn, is op die eerste dag van die saamtrek begrawe. Sy was 92 jaar.
Die saamtrek word elke tweede jaar gehou.
Die voorsitter van die Oudtshoorn-reëlingskomitee, Jonathan Wicomb, het die saamtrek as 'n besondere een beskryf.
Dit was langer as gevolg van openbare vakansiedae wat meer tyd gegee het vir aktiwiteite, samesyn, lekker rus en mekaar beter te leer ken.
Die familie het spanne gemaak wat in streekverband verdeel is en vanjaar het die Wes-Kaapse span die toutrekkompetisie gewen.
Die volgende saamtrek word vir 2020 beplan.
Van die sowat 250 Wicomb-familielede wat die afgelope naweek die elfde familiesaamtrek by die Calitzdorp-spa bygewoon het. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'