CALITZDORP NUUS - Vriende van die Museum in Calitzdorp bied op 5 Augustus 'n What's New-uitstappie aan.
Dit sal om 09:30 by die Calitzdorp-stasie begin en by die Red Stone Hills-/ Buffelskloof-area eindig.
Volgens Neil Curry van die Calitzdorp-museum, is Calitzdorp in die middel van een van die mees fassinerende geologiese areas in die Klein-Karoo.
"Daarom het ons dit goed gedink om Jean Malan, 'n petroleumgeoloog en sedimentoloog, te nooi en 'n toer met belangstellendes te doen. Hy is nou semi-afgetree in Kleinmond, na 'n loopbaan van meer as 30 jaar as 'n petroleumgeoloog wat beide in Afrika en Suid-Amerika gewerk het.
"Hy het sy loopbaan in die Raad vir Geowetenskap in 1983 begin, en die grootste deel van die gebied suid van die Langeberge tussen Stanford en George gekarteer, terwyl hy 'n meestersgraad oor die kussedimente gedoen het. Hy ken hierdie area goed.
"Enigiemand wat belangstel om meer uit te vind oor hoe die kenmerkende landskap van hierdie wonderlike gebied tot stand gekom het, word uitgenooi om saam met ons te kuier. Die plan is om by Calitzdorp-stasie te begin waar Jean ons sal bekendstel aan die tydlyn van Calitzdorp se geologiese geskiedenis. Ons ry dan na Huisrivierpas, wes van Calitzdorp om voorbeelde van die Kaapse Plooiberge te sien en die oudste rotse van die area van naderby te ondersoek.
"Dan terug, na onmiddellik wes van Calitzdorp, om die interessante verhaal van Calitzdorp se Age of Dinosaurs te hoor. Volgende, na die hoëvlakterras oos van Calitzdorp, om te sien hoe water en riviere steeds die area se landskap vorm.
"Uiteindelik sluit ons by die Red Stone Hills-/ Buffelskloof-area, sowat 15 km oos van Calitzdorp af."
Kostes beloop R50 vir Vriende van die Museum en R80 vir nie-lede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’