OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Rose Valley het gister 'n gedeelte van die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust met klippe versper en ook klippe gegooi uit woede oor werksgeleenthede.
Die polisie is gisteroggend omstreeks 10:00 ontbied nadat die verkeer op die pad ontwrig is en vir die veiligheid van motoriste gevrees is.
Teen 12:30 was die pad steeds toe en die polisie se eenheid vir openbare orde het vanuit George op die toneel aangekom. Daar was nie iemand wat namens die groep met die media wou praat nie, maar uit inligting wat wel bekom is, blyk dit dat die oproer verband hou met tydelike werksgeleenthede.
Volgens mense op die toneel is die inwoners ongelukkig omdat inwoners van GG-Kamp, wat 'n aantal kilometer van Rose Valley geleë is, gebruik word vir kontrakwerk. Hulle voel dat mense uit 'n gemeenskap gebruik moet word vir werk in dieselfde gemeenskap. Die inwoners het daarop aangedring om met die raadslid van die wyk of met 'n senior amptenaar van die munisipaliteit te praat.
Volgens 'n lid van die polisie het die munisipaliteit aangedui dat hulle nie amptenare na die toneel sou stuur nie.
In 'n poging om die situasie te ontlont het die polisie twee verteenwoordigers van die gemeenskap na die munisipale kantore geneem. Teen saktyd was die uitkoms van die besoek aan die munisipaliteit nog nie bekend nie en die pad was steeds gesluit.
Die polisie moes Dinsdag bontstaan om oproeriges by Volmoed te kalmeer wat ook daar 'n hoofpad versper het uit protes teen die gesloer met behuising.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'