CALITZDORP NUUS - ‘n Groepie Calitzdorpers, wat by CASIDRA se Werk vir Water-projek werksaam was, is werkloos gelaat na die projek gesluit het as gevolg van ‘n gebrek aan fondse.
Die doel van die projek was om indringerplante in rivierbeddings uit te roei. Met die beëindiging van die projek, het die mans egter besluit om met ‘n landbouprojek voort te gaan al was dit sonder betaling.
Dit was die geboorte van die Farming for Pride on Route 62-projek met Christolino Pêrel as die stigter en Ellenore Gysman wat die boekhouding sonder vergoeding doen. Gysman het gemeenskapsontwikkeling by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gestudeer.
Volgens Pêrel het sy tydens ‘n wynproesessie by De Krans, haar idees met Stroebel Nel van De Krans gedeel. Deur sy bemiddeling het René Oosthuizen ‘n stukkie landbougrond en ‘n stoor op die perseel beskikbaar gestel. Oosthuizen het ook nie huur gevra vir die huidige jaar nie omdat die groep nog geen oes afgehaal het nie.
Die span het op 24 Mei begin om die grond vir die aanplant van groente voor te berei. Elkeen het sy eie gereedskap van die huis af gebring en begin skoonmaak en het gereeld, met leiding van Stroebel Nel, beplanningsvergaderings bygewoon. Van die spanlede het kursusse oor die aanlê van groentetuine voltooi.
Op hede is 1 000 koolplantjies geplant en 1 kg tamatiesaad asook ‘n verskeidenheid pampoensoorte is gesaai.
Volgens beplanning, behoort die eerste groente-oes in November gereed te wees. Pêrel is besig om by Kannaland-munisipaliteit aansoek te doen vir ‘n permit sodat hul ‘n groentestalletjie kan opsit op die perseel om die vars groente te verkoop. Sy is ook besig met marknavorsing op omliggende dorpe om geskikte afsetpunte te kry.
Hulle beplan ook om uiesaad te produseer en ‘n wingerd aan te lê. ‘n Kwekery wat plantjies verskaf, is ook in die vooruitsig.
Al het hulle reeds ‘n bankrekening vir die projek geopen, is daar geen fondse beskikbaar nie. Alles wat sover gedoen en betaal is, het uit hul eie sakke gekom. Hulle probeer tans om met worsbroodjie- en koffieverkope ekstra geld invorder vir saad. As deel van gemeenskapsbetrokkenheid lei die groep ook jongmense van die dorp op om met groente te boer.
Pêrel het ook intussen aansoek gedoen dat die span ‘n kursus in gesondheid en veiligheid kan voltooi.
Die publiek is welkom om Christolino Pêrel en haar groep op die perseel in Voortrekkerweg Calitzdorp tussen 08:30 en 15:00 te besoek. Enigiemand wat hulle wil ondersteun kan Pêrel by 081 849 0903 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'