OUDTSHOORN NUUS - Werkloosheid is tans 'n reusekwessie in Oudtshoorn en misdaad dryf belangrike beleggers uit die area.
Dit volgens 'n verklaring wat die week deur Melt Botes, provinsiale kommunikasiekoördineerder van die DA, uitgereik is.
Volgens hom was daar onlangs 'n besoek aan die Oudtshoorn-polisiestasie deur Okkie Terblanche, DA se kiesafdelingshoof en lid van die portefeuljekomitee oor polisie, afgelê.
Klankgreep: Werkloosheid en misdaad 'n kommer
"Daar was 'n gesprek met die stasiebevelvoerder en ander beamptes om te probeer verstaan watter uitdagings hulle in die gesig staar. Tydens die vergadering is verneem dat polisiehulpbronne 'n groot probleem is, net soos in die res van die Wes-Kaap."
Terblanche het ook met Hennie Davel, 'n verteenwoordiger van die Oudtshoorn-besigheidskamer wat vir veiligheid verantwoordelik is, ontmoet sodat daar oplossings vir gemeenskapsveiligheid gesoek kan word.
"In Kaapstad blyk samewerking tussen verskillende belanghebbendes, soos die SAPD, buurtwagte, die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering deurslaggewend te wees om misdaad te bekamp. Daarom, om misdaad wat ekonomiese groei in die gebied tot 'n val te bring, moet ons verseker dat ons almal saamwerk," het Terblanche gesê.
Volgens Botes sal die DA opvolgbesoeke reël om die situasie in Oudtshoorn te monitor.
"Die huidige ANC-PA-koalisie is deurspek met omstredenheid en bewerings van bedrog en wanbestuur, en faal die inwoners van Oudtshoorn droewig. Die DA gee egter om vir die mense van Oudtshoorn en sal hard daaraan werk om dit ’n beter en veiliger plek vir almal te maak,” het Terblanche gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'