Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Nadat padwerke aan die N12 in November 2017 doodgeloop het, is daar 'n dowwe lig in die tonnel vir moedelose motoriste tussen De Rust en Oudtshoorn.
Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het vandeesweek by monde van hulle woordvoerder, Byron la Hoe, bevestig dat 'n nuwe kontrakteur aangestel is om die werk te voltooi. Die vorige kontrakteur, NMC, het verlede jaar in April met die kontrak van R213 miljoen begin, maar moes na slegs 8 maande die handdoek ingooi toe hulle finansies begin skipbreuk ly het.
As gevolg van finansiële probleme kon die maatskappy nie by die voorwaardes van hulle kontrak met die regering bly nie, en het die terrein in Desember verlaat. Die aanvanklike kontrak wat toegeken is, was vir die opgradering en verbreding van die pad tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp en die herseël van die padoppervlak tussen Dysselsdorp en De Rust. Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar in September bewus geraak dat NMC in gebreke gebly het om miljoene aan subkontrakteurs te betaal.
Na navrae aan die departement van vervoer en verskeie berigte het dit aan die lig gekom dat NMC op die randjie van bankrotskap is en hulle kontrak is deur die departement gekanselleer. Hulle wou aanvanklik die beëindiging van die kontrak in die hof betwis en het ook probeer om aansoek te doen vir sakeredding. Die Oudtshoorn Courant het op 28 Februarie vanjaar berig dat NMC se skuld landwyd heelwat meer beloop het as die R213 miljoen wat hulle vir die kontrak sou ontvang.
Volgens La Hoe is die kontrak vir voltooiing van die werk, onlangs aan Roadmac Surfacing Cape (Pty) Ltd toegeken. Die kontrak het reeds op 15 Junie in werking getree. Indien alles volgens plan verloop behoort die padwerke volgens La hoe, teen Desember 2019 voltooi te wees.
Intussen is die frustrasie van stop-en-ry-punte nog vir etlike maande motoriste se voorland en sal reistyd tussen Oudtshoorn en De Rust steeds aansienlik langer as normaalweg duur.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'