OUDTSHOORN NUUS - Angie Boetticher, Janine Damons en Angelique Erasmus is Woensdag by die CJ Langenhoven-biblioteek as die wenners van die SA Weermag Health Centre South Coast (HCSC) se fotokompetisie aangewys.
Dié foto-uitstalling het deel gevorm van 'n Wêreldvigsdag-bewusmakingsveldtog in Oudtshoorn wat deur HCSC georganiseer is.
Al die deelnemers moes foto's inskryf van hoe gewone Suid-Afrikaners deur MIV/vigs geaffekteer word en die foto's moes ook illustreer wat hul beste wense vir die behandeling en voorkoming van dié pandemie in die toekoms is.
Hans van der Veen, lid van HCSC, het tydens die uitstalling gesê dat MIV/vigs 'n kwessie is wat deur die gemeenskap in sy geheel aangespreek moet word. "Ons almal word een of ander tyd deur MIV/vigs gekonfronteer en vir hierdie rede is dit tyd dat ons met vars oë na dit moet kyk.
Dis ook belangrik dat Suid-Afrikaners moet weet dat ons land oor die grootste ARV's behandeling sentrum in die wêreld beskik. MIV/vigs is dus nie meer 'n doodstraf nie en behandeling daarvan is vrylik beskikbaar om die geaffekteerde se lewensverwagting aansienlik te verhoog"
Volgens Van der Veen kleef daar 'n stigma aan dié siekte wat deeglike kommunikasie oor die onderwerp bemoeilik en deur middel van hierdie uitstalling en kompetisie hoop sy organisasie om dialoog onder die gemeenskap aan te wakker.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'