OUDTSHOORN NUUS - Die inisiatief van 'n plaaslike sakevrou het Maandag vir die Triomf kinder- en jeugsorgsentrum R10 000 in die sak besorg.
Valerie van der Walt, eienaar van Rainbow Motors, het Maandag gesê sy glo dat besighede in die gemeenskap moet terugploeg. "Ek weet dat Huis Triomf groot uitdagings het en daarom het ek besluit om 'n skenking te maak."
Sy was egter nie tevrede om slegs R5 000 te skenk nie en het Engen genader om haar skenking te ewenaar. Volgens Roland Davis, areabestuurder van Engen, het die maatskappy onmiddellik ingestem om Van der Walt se skenking met 'n bykomende R5 000 aan te vul.
"Engen moedig hulle handelaars aan om, soos Rainbow Motors, by gemeenskapsprojekte betrokke te raak."
Irma Olivier, hoof van Triomf, en Crystal Muller, die sentrum se administrateur, het die tjek ontvang. Olivier het gesê hulle raak toenemend afhanklik van bydraes van die gemeenskap vir hulle belangrike taak om na seuns wat na Triomf verwys word om te sien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'