OUDTSHOORN NUUS - Ons is opgewonde om die kunstenaars en gehore vir hierdie spesiale fees op Oudtshoorn, met die Klein-Karoo se unieke, warm gasvryheid te ontvang. Ter viering van Klassique se tiende verjaarsdag, is die fees een dag langer en bied ons tien uitvoerings aan, teenoor die agt van verlede jaar.
Na die sukses van Die Windpomp Restaurant-teater, word dié program ook uitgebou na drie optredes.
Om vir tien jaar 'n fees in die platteland aan te bied, is egter nie moontlik sonder borge en donateurs nie. Ons het opregte waardering vir die ondersteuning en bydrae van al ons borge: die Rupert-Musiekstigting, Sahnti Nilaya Trust, die Vlaamse Regering, die ATKV, die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), Le Lude, Hyundai Oudtshoorn, Nic en Ferda Barrow, ons mediavennoot die Oudtshoorn Courant, al die verblyfborge en alle individue wat 'n bydrae lewer.
Die musiekprogram bied 'n geleentheid aan gehore om verskeie komposisies vir die eerste keer te hoor – dit is voorwaar 'n voorreg dat die musici Oudtshoorn gekies het om dit vir 'n eerste keer uit te voer. Ondersteun ook die drie laataand uitvoerings in Die Windpomp Restaurant-teater om 21:00. Ons bou voort op dié uiters suksesvolle konsep van verlede jaar, met een ekstra vertoning.
Kuier lekker saam met ons by die NG Moederkerk se CJV-kompleks tussen uitvoerings. Ons sien daarna uit om jou daar te sien.
Artikel: Hugo Theart (Waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'