OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het vroeër vandag gereageer op 'n waarskuwing van 'n verdagte voertuig naby 'n laerskool.
Sosiale media het die laaste twee weke behoorlik gegons oor die beweringe van voertuie wat naby jong kinders stop en poog om hulle te ontvoer.
Daar was selfs bewerings dat meisies by Fezekile Primary School bykans ontvoer is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die voertuig later afgetrek en deursoek. Geen verdere stappe is gedoen nie.
"Verder is 'n ondersoek na bewerings van insittendes in 'n swart Volkswagen Golf wat 'n 12-jarige meisie op 28 Augustus genader het tans aan die gang.
Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe
(FCS) ondersoek hierdie saak. Oudtshoorn-polisiebestuur beskou die bewerings as ernstig en sektorbevelvoerders is getaak om gereeld met die skoolbestuurspanne in die gebied in gesprek te tree. Intussen het die polisie ook patrollies rondom skoolpersele in die area verbeter."
Spies sê hulle doen 'n beroep op die publiek om sensitief te wees met kwessies oor kinderveiligheid en om nie kwaadwillige gerugte op sosiale media-platforms te deel nie.
"Hierdie gerugte kan onnodige paniek in gemeenskappe skep. Daar word aangeraai dat inligting oor onwettige aktiwiteite met die polisie gedeel word vir 'n spoedige reaksie. 'n Toegewyde nommer is ook toegeken en inligting of waarskuwings kon gedeel word via 079 893 9966. Alternatiewelik kan inligting oorgedra word via Crime Stop by 08600 10111 of die MySAPS-toepassing. Alle inligting wat ingesamel word, sal met die grootste vertroulikheid hanteer word."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’