CALITZDORP NUUS - Inwoners van Calitzdorp en Ladismith is warm onder die kraag as gevolg van die feit dat die dorp 'n geruime tyd reeds met 'n water tekort worstel.
Inwoners het hulself al tot sosiale media gewend om hieroor te kla.
In Calitzdorp was die situasie erger as in Ladismith. Peperduur kragopwekkers is nodig om water na reservoirs te pomp.
Volgens die Kannaland-munisipaliteit word hul vermoë om water na die reservoirs te pomp, deur beurtkrag verswak. Volgens 'n amptenaar by die munisipaliteit word die moontlikheid van groot watertenks op strategiese punte ook ondersoek as laaste uitweg.
'n Inwoner van Calitzdorp, Marianne Julies sê: "Ons sit al vir weke sonder water. Die water is meer af as aan. Wat van toilette wat nie kan spoel nie, en ek het 'n baba vir wie ek bottel moet maak? Ek kan dit mos nie met hierdie vuil water doen nie."
Die woordvoerder van die plaaslike ANC-tak, Elvis Ntlebi, het soos volg op die probleem gereageer: "Ons vra vir ingryping deur die nasionale departement van waterwese. Ons mense se menswaardigheid moet respekteer word."
Khaki Willemse, 'n gemeenskapsleier in Calitzdorp meen dat die enorme bedrae geld wat op hofsake vermors word, kan gebruik word om die waterstelsel op te gradeer.
"Die water lyk soos flou tee en dit moet eers gekook word," sê 'n woedende Willemse. Willemse beskou dit as swak bestuur van die munisipaliteit en sluit nie die moontlikheid uit dat dit oor 'n week van nou af 'n swart Kersfees sonder water kan wees nie.
Hendrik Barnard, 'n munisipale amptenaar, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat dit as gevolg van beurtkrag is dat die invloei na die reservoirs nie die uitvloei van water kan balanseer nie. Barnard het egter dit duidelik gestel dat die munisipaliteit onverpoos werk om die probleem die hoof te bied.
Deon Smit van South African Water Warriors het op 'n navraag aan die koerant genoem dat hul uitreikings vir die jaar reeds beplan is, maar dat hy aan lede en vriende sal vra om, indien hulle deur Kannaland reis, water by die munisipaliteit af te gee.
'n Gedeelte van Calitzdorp se water word deur die Oudtshoorn-munisipaliteit voorsien.
Volgens Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester, Chris Macpherson se kantoor, verskaf Oudtshoorn nie dorpswater aan Calitzdorp nie.
"Oudtshoorn het wel vir etlike jare tot Januarie vanjaar water aan Gamka-Oos en Gamka-Wes verskaf. Met die hulp van Oudtshoorn se tegnici is 'n wateraansluiting gekoppel om water uit die Calitzdorp-dam aan Gamka-Oos en -Wes te verskaf en Kannaland-munisipaliteit het dit tot ongeveer twee maande gelede bestuur. Hulle het egter 'n probleem ervaar met die bestuur en bedryf van die stelsel en tans lewer Oudtshoorn elke tweede dag water aan Gamka-Oos en -Wes."
Volgens hom kan die sisteem egter net aan 90% van die verbruikers in hierdie twee dele water lewer aangesien die druk te laag is om die ander 10% te bereik.
"Daar is genoeg water in die Calitzdorp-dam, maar dit blyk dat Kannaland bestuurs- en bedryfsuitdagings het met die bestuur van die waternetwerk. Senior bestuurders van Oudtshoorn se waterafdeling en van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema gaan gereeld na Calitzdorp om hulle met tegniese raad en hulp by te staan."
Tydens 'n spesiale raadsvergadering van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) verlede week het die raadslede 'n versoek om bystand van die Kannaland-munisipaliteit bespreek. Die munisipaliteit het hulp met die waterkwessie weens beurtkrag gevra.
Volgens 'n berig in George Herald, susterskoerant van Oudtshoorn Courant, het die raad besluit dat die GRDM stappe sal neem soos nodig om krisisse met water en elektrisiteit te hanteer. Hulle het ook besluit dat die versoek vir die verklaring van die Tuinroete-distrik as 'n plaaslike droogterampgebied ondersoek sal word en aan die raad teruggerapporteer word.
Distrik-munisipale bestuurder, Monde Stratu, het gesê dat hy op 7 Desember 'n oproep van die waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, Keith Jordaan, ontvang het wat hom gewaarsku het oor 'n waterkrisis in Kannaland. Volgens hom raak dit die lewens en lewensbestaan van die inwoners van daardie gebied. Hy het sekere ingrypings van die distrik versoek.
Hoof van rampbestuur, Gerhard Otto, het gesê die tertafellegging van die item word proaktief gedoen, en dat Knysna, Oudtshoorn en Hessequa ook hulp met watertekorte gevra het.
Hy het gesê hy voorsien dat beurtkrag vir ten minste die volgende ses maande op die hoër vlakke by ons sal wees.
"Toe die munisipale bestuurder my bel, het ek 'n evaluering gedoen van wat in Kannaland nodig is en besef dat back-up elektrisiteitsopwekking nie net in Kannaland nodig is nie, maar vir die hele distrik."
Ver onder normale reënval is die afgelope vier maande in die distrik ontvang. Sommige reën word vir die komende week en die week daarna verwag, en dit lyk wel 'n bietjie meer belowend vir die einde van Desember en Januarie.
Die kragopwekkers wat nodig is, is nie geredelik beskikbaar nie – almal in die land het dit nodig. Hulle moet vervaardig word, het Otto gesê. Huuropsies word ondersoek.
'n Navraag is ook aan Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering gestuur, maar teen druktyd is geen antwoord ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'