OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die week in 'n verklaring gesê dat alle waterbeperkings vir Oudtshoorn opgehef is. Dit sluit egter nie Dysselsdorp, De Rust en die Klein-Karoo Landelike waterskema in nie.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, is die Raubenheimerdam tans besig om te oorstroom.
"Streng vlak-6-waterbeperkings geld nog in Dysselsdorp, De Rust en die Klein-Karoo Landelike waterskema. Hoewel die Huisrivier oorstroom mag die munisipaliteit net 'n sekere volume van die water onttrek."
Mle het gesê as gevolg van beurtkrag is dit nie moontlik om uit die boorgate te pomp vir die volle tydperk wat benodig word nie. "Daarom kan die waterbeperkings vir Dysselsdorp, De Rust en die KKRWSS nie opgehef word nie."
Beperkings sluit die volgende in:
- Geen was van motors met munisipale drinkwater nie.
- Geen skoonmaak van geplaveide/beton/geteerde oppervlaktes en strukture met munisipale drinkwater nie.
- Die gebruik van munisipale drinkwater vir enige konstruksie- of boudoeleindes (insluitend die skoonmaak van dakke met hoëdruk/laevolume skoonmakers) word verbied.
- Besproeiing van tuine met munisipale drinkwater is verbode.
- Kwekery en motorwasbesighede moet toestemming van die tegniese departement te verkry om munisipale drinkwater vir hul besighede te gebruik. Alle aansoeke om toestemming moet vergesel word van 'n gedetailleerde metodeverklaring wat aandui hoeveel water gebruik gaan word en watter maatreëls ingestel sal word om water te bespaar met verwysing na industrie se beste praktyk waterbesparingsnorme en die herwinning van water. Noodwatertariewe sal geld.
- Die aanvulling of vul van alle (privaat en publieke) swembaddens met munisipale drinkwater is verbode.
- Fonteine en waterfunksies bly gesluit.
- Besproeiing deur water anders as drinkwater word duidelik aan die voorkant van eiendomme aangedui waar sodanige besproeiing plaasvind, bv. "BOORGATWATER".
- Besproeiing van enige sportvelde, sowel as die natmaak van landbougrond, kampe, parke, grasperke en oop ruimtes met munisipale drinkwater, is heeltemal verbode.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’