OUDTSHOORN NUUS - Daar word gereeld grufoto's van mishandelde en verwaarloosde diere op sosiale media geplaas. Só 'n onlangse plasing was Argos, 'n hond wat in 'n erg verwaarloosde toestand by die munisipale skut afgelaai is. Met die plasing van sulke foto's kom die vraag oor vervolging van oortreders na vore.
Die Oudtshoorn Courant het dié week 'n lesersbrief ontvang waarin 'n inwoner vra wanneer word eienaars wat diere mishandel aangekla.
Die koerant het navrae aan die polisie, Oudtshoorn-munisipaliteit, Tuinroete DBV, sowel as die twee plaaslike organisasies, Animal Care Team SA (ACT SA) en Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) gestuur om te vra hoe hulle in sulke situasie optree en wat die publiek se reg ten opsigte van dieremishandeling is.
Lees die uittreksel van die Wet op Dierebeskerming hier.
ODIN
Volgens Colleen Smith, voorsitter van ODIN, het die vrywilligers magtiging van die landdros om kriminele klagtes te lê. Hulle het ook magtiging om boetes en waarskuwings uit te reik en het hulle ook waarskuwingsboekies om dit te kan doen.
Smith sê hulle verkies egter om eers met die troeteldiereienaars in gesprek te tree.
"Ons gee nie waarskuwings vir diere wat by die skut aangebring word nie omdat ons nie weet wie die eienaar van die hond is nie. Ons moet ons tyd bestee om mense op te voed en om die honde weer gesond te kry." Volgens haar word adresse waar honde verwaarloos word, wel op 'n swartlys gesit en word daar gereeld opvolgbesoeke gedoen om te verseker dat die eienaar die dier reg behandel. Daar is ook sekere gevalle waar daar wel waarskuwings uitgereik word waar die eienaars nie toegelaat word om weer 'n hond te hê nie.
"Om aggressief te wees, honde net summier weg te vat en boetes uit te reik help nie altyd nie. Opvoeding is 'n beter opsie, want dan leer mense uit hul foute. Ons leer hulle om eerder die hond wat hulle het gesond te hou, die erf netjies te hou en om nie die hond aan 'n ketting te hou nie. Dit is alles, volgens die dierebeskermingswet, oortredings."
Volgens haar is die publiek ook geregtig daarop om klagtes van verwaarlosing of mishandeling te lê, maar dit is beter om deur ODIN te werk.
ACT SA
Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT SA, sê: "As vrywilligers het ons by die landdros toestemming gekry om in Oudtshoorn, Calitzdorp en Rietbron/Beaufort-Wes toe te sien dat diere behandel word soos uitgelê in die 'Animals Protection Act'. As dit gebeur dat diere mishandel word, is dit ons verantwoordelikheid om op te tree. Dus mág ons klagtes lê. Ons reik ook waarskuwings uit, maar ons skryf nie boetes uit nie - dit word deur die wetstoepassers gedoen."
Sy sê hulle gee egter nie dadelik waarskuwings nie, maar probeer eers aan die eienaar verduidelik wat hulle verkeerd doen en gee hulle kans om die situasie reg te stel.
Volgens haar is daar prosedures wat gevolg moet word voor diere verwyder word en moet daar eers van die landdros toestemming verkry word om dit te doen. "Indien die dier se lewe in onmiddellike gevaar is of as hy dalk kan doodgaan of ly kan ons op eie risiko die dier verwyder. In so 'n geval neem ons foto's van die omstandighede en skryf 'n veearts 'n verslag. Dit kan egter net in noodtoestande gedoen word. Ons lê selde kriminele klagtes. Net as die saak baie sterk is. Daar is 'n baie lae vervolgingskoers en dit is 'n duur proses. Meeste klein organisasies kan dit nie altyd bekostig nie."
DBV
Salomé Botha van die DBV sê hulle mag in dorpe optree al het hulle nie 'n tak in die dorp nie. "Die Nasionale Raad van DBV's moet in kennis gestel word, met ander woorde die klaer moet die klagte deur gee aan die NDBV wat dan magtigingsbriewe reël wat deur die plaaslike landdros geteken moet word vir die inspekteur om in daardie gebied te mag werk en hulle magte te kan uitoefen. Ons probeer dat plaaslike welsynsorganisasies dit eers ondersoek - indien daar is. Alle klagtes sal egter ondersoek word."
Munisipaliteit
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit sê, volgens munisipale ordinansies mag huiseienaars net twee honde en twee katte op 'n perseel hê.
"Die munisipaliteit kan beslag lê op diere wat mishandel word en boetes uitreik. Skuldiges kan ook voor die hof gedaag word. Mense wat aan dieremishandeling skuldig bevind word, kan deur 'n hof onbevoeg verklaar word om ooit weer enige dier aan te hou."
Volgens haar wil die munisipaliteit graag hê dat die gemeenskap betrokke moet raak en voorvalle by die wetstoepassers aanmeld. Skakel die beheerkamer by 044 203 7800 of 2037801 om voorvalle aan te meld.
Polisie
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê, enige persoon kan 'n klag van dieremishandeling lê.
"Jy kan egter nie namens iemand wat dit gesien gebeur het, die klag lê nie, want dan is dit hoorsê. Daardie persoon moet self die klag lê." Visser sê indien daar wel 'n klag gelê is, maar is volgens die klaer nie reg ondersoek nie kan die klaer die speurtak se bevelvoerder kontak.
Op die Oudtshoorn Courant se webtuiste is 'n uittreksel van die Wet op Dierebeskerming om te verduidelik wat as dieremishandeling beskou word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'