Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Rosebank op Oudtshoorn, wat van moord op sy saamleefmaat skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur.
Streeklanddros JC Nortjé het bevind dat die 23-jarige Elrico Malgas die enigste persoon is wat sy lewensmaat, Viola Maxim, so erg kon aanrand dat sy aan haar beserings beswyk het.
Malgas het erken dat hy en Maxim op 29 Junie 2015 in 'n bakleiery betrokke was. Hy het egter ontken dat hy vir haar beserings blameer kan word.
Volgens hom het hy die nag by sy oom, Moos Slabbert, oorgeslaap en kon Maxim nie die volgende oggend wakker kry toe hy by die huis kom nie. Malgas is op omstandigheidsgetuienis skuldig bevind. Hy het nie die hof beïndruk met sy getuienis nie en Maxim het volgens die nadoodse ondersoek omvattende beserings opgedoen wat net deur die beskuldigde toegedien kon word.
Die landdros het in sy uitspraak gesê Malgas het heeltemal apaties gestaan teenoor die beserings van die oorledene.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Malgas is aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind wat landwyd aan die orde van die dag is. Hy het in ag geneem dat Malgas redelik jonk en vir bykans 17 maande in aanhouding was. Hy het waarskynlik nie die misdaad beplan nie, maar moes brutale geweld gebruik het om die oorledene so ernstig te beseer.
Die hof kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien jaar nie en Malgas is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Corné Pretorius was die aanklaer terwyl Gideon Badenhorst namens die beskuldigde verskyn het.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'