OUDTSHOORN NUUS - Die familie van die 27-jarige Viola Maxim, wat die afgelope naweek na bewering deur haar kêrel vermoor is, is geskok oor haar wrede dood en het 'n klomp vrae rondom die omstandighede waaronder sy dood is. .
Elrico Malgas (22) is Saterdag vir haar moord in hegtenis geneem na hy haar na bewering verskeie kere met 'n graaf aangerand het.
Volgens Maxim se pa, David Between, woon Malgas slegs twee huise van hulle af in Rosebank.
"Sy was die Vrydagaand by hulle gewees. Die polisie het gesê my kind is al Vrydagaand vermoor. Die seun se ma, wat ook in die huis woon, het Saterdagoggend 08:20 eers na my vrou, Joyce, toe gekom en vir haar gesê sy moet kom, want Viola lê leweloos in haar huis."
Between sê Malgas het 'n kamer buite die huis en die vermoede is dat Malgas vir Viola in die kamer aangerand het.
"Ek kan net nie verstaan dat niemand Vrydagaand al vir ons kom haal het nie. My kind het binne-in hulle huis gelê. Het niemand haar hoor skree nie? Het niemand gehoor hoe hy haar aanrand nie? Iemand kon haar lewe gered het as hulle net vroeër laat weet het sy het seergekry. Die groot hou agter haar kop het glo haar dood veroorsaak. Hy het haar agter haar nek ook geslaan. Viola moes geskree of geraas het."
Between sê dit is ook nie die eerste keer wat Viola deur die jong man geslaan was nie.
"Hy het al baie aan haar geslaan. Hy het haar baie seergemaak. In Mei vanjaar het hy ons huis ook kom plunder. Die skade was R5 000 en ek het 'n klag by die polisie gelê."
Volgens Between het die polisie Saterdag na Malgas by sy huis gaan soek.
"Hy het weggehardloop en die polisie het die honde-eenheid laat kom. Hy is later by sy oom se huis in Rose Valley gearresteer na sy oom laat weet het die kind is by hom."
Viola was die ma die van 'n agtjarige seuntjie wat nou in Dysselsdorp by familie is.
David Between, Viola Malgas se pa. Foto: Liezl van Niekerk
Malgas het reeds Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en die saak is tot 12 Julie vir 'n borgtogaansoek uitgestel.
Viola word Saterdag 12:00 vanuit die Geloof, Hoop en Liefde-kerk in Rosebank begrawe. Die diens begin 11:00 by die familie se huis, Harmonystraat 28.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'