Update
ZOAR NUUS - Rushain Roodtman, die 5-jarige seuntjie wat op 23 Februarie in 'n rioolsuiweringsdam verdrink het, is die afgelope naweek begrawe.
Hy het volgens sy ma, Maria, sy skape wat daar gewei het gaan haal om huis toe te bring toe hy gegly en verdrink het.
Pastoor Lionel Rose het die diens by die RMI-kerk gelei en Rushain se maats het sy spierwit kissie na die wagtende lykswa gedra.
"Ant Maria, indien jou trane vandag meer is as die afgelope week, mag jy maar huil. Om 'n kind te verloor is seker een van die pynlikste ervarings wat daar kan wees," het hy tydens die diens gesê.
Rose het aan die familie van Rushain gevra om, net soos wat Jesus se dissipels Maria ondersteun het, hulle ook nou Rushain se ma moet ondersteun.
"Rushain was vol liefde en geliefd in Braklaagte en betoon sy omgeeliefde aanmekaar. Kom ons word weer soos voorheen waar jou kind myne is. As sy dood dan ons net hieraan kan herinner, dan het hy nie verniet gesterf nie."
In 'n roerende huldeblyk gelewer deur 'n familievriend, Jennica Ludick, het sy gesê Rushain was lief vir diere en 'n omgeemens.
"Sy maatjies kon leer uit sy voorbeeld. Laat sy herinneringe in lewenswyse gestalte kry," het Ludick gevra.
Maats en familie van Rushain Roodtman het sy kis gedra.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Zoar, Klein Karoo nuus'