Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Dieredag van Saterdag 16 September, aangebied deur Animal Care Team (ACT) tesame met die Wes-Kaapse staatsveearts in Oudtshoorn, het hordes inwoners na die veeartskantore in Van der Rietstraat gelok vir 'n dag van pret, plesier en hondsdolheidbewusmaking.
Daar was iets vir ieder en elk - oud en jonk, mens en dier. Dit was die vyfde keer dat hierdie geleentheid aangebied is.
FOTOGALERY: Oudtshoorn Dieredag
Volgens Vanessa Engelbrecht van ACT werk hierdie dierewelsynsorganisasie vir die afgelope vyf jaar saam met die staatsveearts, dr. Cathy Fox om 'n verskil in die dorp se dierewelsyn te maak deur soveel diere in nood te steriliseer as wat hulle kan bekostig en te help met basiese wondsorg en die voorkoming van hondsdolheid in die omgewing.
"Alhoewel ACT geen finansiële ondersteuning van die regering ontvang deur ons vennootskap met die staatsveeartsenykantoor nie, het ons 'n sterk verhouding en gedeelde doelwit om die welsyn van diere te verbeter gevestig. Die Oudtshoorn Dieredag is een van ons grootste fondsinsamelings van die jaar en sou nie moontlik wees sonder ons gedeelde doelwit nie," het sy gesê.
Die hoofdoel van die dag, hondsdolheid-voorkoming, is volgens Engelbrecht 'n baie belangrike veldtog waaroor beide ACT en die staatsveearts sterk voel en baie opvoeding in hierdie verband moet gedoen word. "Hondsdolheid is 100% dodelik vir beide jou troeteldier en vir mense, die meeste bytgevalle is kinders onder die ouderdom van 10 en dood is amper gewaarborg. ACT en die Staatsveeartsenykantoor, doen 'n beroep op die publiek om die erns van hierdie virus te verstaan en om te verseker dat hul troeteldiere jaarliks ingeënt word," het sy bygevoeg.
Oudtshoorn Dieredag is 'n geleentheid vir hierdie twee entiteite om troeteldiere gratis teen hondsdolheid in te ent, het Engelbrecht gesê, en met die markatmosfeer samel hulle broodnodige fondse in om hul werk voort te sit.
Met dieredag het die staatsveearts 316 honde en 66 katte ingeënt wat die totaal op 382 troeteldiere te staan bring wat teen hierdie verwoestende siekte ingeënt is.
Hierdie hond is nie lus vir 'n inspuiting nie, en gee dit te kenne.
Die Oudtshoorn Vaardigheidskool se span het die top-drie plekke behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’