PRINS ALBERT NUUS - Volgehoue pogings om korrupsie uit staatdepartemente te hou het vrugte af gewerp na vyf verdagtes op gister 26 Mei in verband met beweerde bestuurslisensiebedrog in hegtenis geneem is.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes verkeersbeamptes van Prins Albert en eienaars van bestuursskole en kom hulle van sover as Oos-London. Die verdagtes het na bewering vergoeding inruil vir lisensies ontvang.
"Beamptes van die provinsiale kommersiëlemisdaad-ondersoekspan en die Wes-Kaapse departement van vervoer het die operasie gelei. Nege verdagtes tussen die ouderdomme van 34 en 61 is op 18 Februarie in Oudtshoorn in hegtenis geneem."
Volgens Pojie het die ondersoekspan, saam met lede van die kubermisdryf-eenheid en misdaadintellegensie, die ondersoek na die arrestasie in Februarie nog verder geneem en nog verdagtes se huise is deursoek.
Dit het gelei tot die arrestasie van 'n verdere vyf verdagtes in Cradock, Queen's Town, Humansdorp en Beaufort-Wes op 26 Mei. Een van die verdagtes is 'n voormalige verkeershoof van Prins Albert, 'n verkeersbeampte en drie eienaars van bestuurskole in die Oos-Kaap.
"Die verdagtes het hul eerste verskyning Vrydag 27 Mei in die Prins Albert-landdroshof gehad. Hulle verskyn op klagtes van die oortreding van die padverkeerswet, bedrog, korrupsie en die oortreding van die voorkoming van georganiseerde misdaad-wet."
Borgtog van R3 000 elk is aan hulle toegestaan en die saak is na 19 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'