Update
OUDTSHOORN NUUS - Vuil water waaroor verskeie inwoners die afgelope twee weke kla is moontlik te wyte aan verouderde waterpype wat gereeld bars, sê die munisipaliteit. 'n Navraag oor die toestand van water is aan die munisipaliteit gestuur nadat inwoners foto's van vuil water aan die Oudtshoorn Courant gestuur het.
Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het Maandagmiddag gesê die troebel water word deur verskeie faktore veroorsaak. Volgens hom is die hoofoorsaak van vuil water in sommige dele van die dorp, pype wat gebars het en grond wat dan in die pypleidings beland. Dit veroorsaak dat water modderig raak ten spyte daarvan dat herstelde pype uitgespoel word. "Na gebreekte pype herstel is, word die pyplyne wel gespoel om die modderigheid uit die stelsel te probeer kry," het hy gesê.
Een van die inwoners wat verlede week hulle misnoeë oor vuil water uitgespreek het, is die bestuurder van 'n gastehuis. Volgens haar is hulle radeloos met die kwaliteit van water wat uit krane kom.
"Ons het nie meer wit beddegoed nie, selfs water wat twee keer deur ons filtreerstelsel gegaan het, is nog bruin. Dit is 'n groot verleentheid om aan gaste te verduidelik dat ons water nie geskik is om te drink nie, en dan kan hulle ook nie eens daarin bad nie."
Nog 'n inwoner het Sondag foto's van 'n bad met bruin water aan die Oudtshoorn Courant gestuur met die boodskap, "Dit is hoe water lyk waarin ons moet bad."
Volgens Mangqwengqwe is nog 'n bydraende faktor die bietjie reënwater wat die afgelope tyd in die damme ingeloop het.
"Die water in die Raubenheimerdam is tans taamlik troebel (bruin) en is as gevolg van die lae vlak van die dam saam met gepaardgaande wind wat dan branders veroorsaak en die afgesakte organiese materiaal weer in suspensie plaas."
Alhoewel die water wat vanaf die Raubenheimerdam kom geen E. coli bevat nie, word aanbeveel dat water steeds gekook word voor gebruik, aangesien die troebelheid veroorsaak dat chlorinering van die water minder effektief is.
Volgens Mangqwengqwe het die munisipaliteit reeds 'n besigheidsplan vir die moontlike finansiering van 'n watersuiweringswerke vir Oudtshoorn opgestel en aan die Wes-Kaapse departement van waterwese en sanitasie gestuur.
Die water van 'n gastehuis soos wat dit verlede week uit die kraan gekom het voordat dit deur 'n filtreerder gegaan het.
Lees 'n vorige artikel: Drinkwater weer in kollig
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'