OUDTSHOORN NUUS - 'n Sakeman van Mosselbaai het verlede week vanaf Dinsdag tot Vrydag een van sy helikopters ingespan om 'n brand in Kannaland te bestry.
Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters het laat Maandagmiddag 'n oproep van die eienaar van die plaas, Bergplaas naby Zoar, ontvang om hulp te vra aangesien 'n sterk wind 'n brand wat op sy plaas ontstaan het, na die omliggende veld versprei het.
Volgens Crous het hy die oproep te laat ontvang om Maandag op te styg en 'n sterk wind het dit ook onmoontlik gemaak.
"Ek en DW du Plooy het Dinsdagoggend met eerste lig Bergplaas toe gevlieg. Dis so 40 minute se vlieg soontoe. Dit is baie droog daar en daar is slegs een dam in die omgewing wat water gehad het. Om min of meer 11:00 het ons die brand onder beheer gehad en ek het vir 'n uur afgestaan."
Hy sê die wind het egter weer opgesteek en die brand het weer op verskeie plekke opgevlam. Hy het die steun van grondspanne aangevra aangesien brandweervoertuie nie in die bergagtige gedeelte kon kom nie en gebruik is om plaaswonings te beveilig.
Plaaswerkers het ook ingespring om die brand te blus totdat brandspanne opgedaag het. Met die hulp van brandspanne van CapeNature, Garden Route-distriksmunisipaliteit en Working on Fire is die brand Woensdag verder bestry.
Crous se vlugte om water in die dam te skep het egter 'n ander wending ingeneem toe hy Woensdag omstreeks 16:15 'n oproep kry dat een van die brandbestryders op die grond inmekaargesak het en in 'n koma was. Hy moes onmiddellik land om die wateremmer, wat 400 liter water kan dra, te ontkoppel.
Daarna het hy na die plek in 'n kloof gevlieg waar die bewustelose vrou in die helikopter gelaai is. Hulle het by 'n plaashuis naby aan die Calitzdorp/Ladismith-pad geland waar die vrou in die AMS-noodhelikopter oorgelaai en hospitaal toe geneem is. Dit blyk dat sy as gevolg van hitte-uitputting inmekaargesak het.
Volgens Crous het hy Donderdag nog 'n aantal gedeeltes geblus, maar 'n sterk wind het die brand weer laat opvlam.
Teen Vrydagoggend omstreeks 10:00 was die brand heeltemal geblus. Crous het ook sy helikopter ingespan om grondspanne na drie verskillende plekke waar dit gesmeul het in te vlieg en hy moes vir oulaas nog drie emmers water op 'n gedeelte onder kranse gooi wat nie te voet bereik kon word nie.
Crous het hierdie week gesê die grond-spanne het onder uiters moeilike om-standighede gewerk en het sy waardering uitgespreek vir die wyse waarop hulle onverpoosd gewerk het om die brand te blus.
Kobus Crous en sy helikopter op twee van die vlugte om water uit 'n dam te skep om die brand te bestry. Foto's: Lizelle Crous
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'