OUDTSHOORN NUUS - Icosa-politieke party het Vryheidsdag, 27 April, deur middel van sport in 14de Laan, Bridgton gevier.
Eden Rainbow-ontwikkelings-projekte het met die projek gehelp.
Die dag is goed deur die plaaslike gemeenskap ondersteun, wat die spelers entoesiasties aangemoedig het in hul onderskeie sportsoorte wat netbal, bingo en sokker op die dag ingesluit het.
Volgens Vlancio Donson, onder-burgemeester van Oudtshoorn en Icosa-lid, was dié vieringe gepas om hierdie belangrike datum te vier en te herdenk.
"Ons kan soms so besig raak met politiek dat ons die toekoms van ons land, wat die jeug is, vergeet. Ons beplan alreeds die volgende geleentheid in ons strewe dat Oudtshoorn 'n plek kan wees waar almal kan groei, werk, speel en floreer."
Nigel Everts (Icosa), een van die koördineerders het op sy beurt gesê dat dit fantasies was om te sien hoe die jeug op hierdie manier bymekaarkom.
"As ons die jeug koester en in die regte rigting stuur, kan ons drastiese verandering teweegbring. Die doel van hierdie dag was dat die jeug moet weet dat daar hoop is en dat hulle die vermoë het om hul uitdagings soos armoede, groepsdruk, werkloosheid of dwelmmisbruik die hoof te bied," het Everts gesê.
Die bekende rymkletser en musiek-vervaardiger, Danny B, het die skare vermaak met musiek op die verhoog wat deur Dryland Event Management verskaf is.
Dan was daar verskeie dansgroepe wat hul staal gewys het tesame met nog 'n plaaslike musikant, Swaex, wat almal op hul voete gehad het.
Gedurende die verrigtinge het die jeug heerlik gesmul aan 'n warm bord kos en elkeen het ook 'n lekkerny-pakkie ontvang.
Die gemeenskap het entosiasties deelgeneem aan heerlik bingo-speletjies.
Vlancio Donson (regs) wens die wenners van die netbaltoernooi geluk. Foto's: Ebenezer Titus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’