OUDTSHOORN NUUS - Die Vrouevereniging van die Bridgton Metodiste Kerk het 'n baie suksesvolle optog ter ondersteuning van die 16 Dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld-veldtog vanaf die Bridgton-sportterrein tot by die kerk gehou.
Die optog wat gereeld tydens die veldtog teen misdaad teen vroue en kinders gehou word, kon die afgelope twee jaar weens Covid nie plaasvind nie, sê Bonita Telamachus, sekretaresse van die vereniging.
Dit word deur die vereniging se portefeulje justisie, versoening en rekonsiliasie aangebied en almal is welkom om daaraan deel te neem.
Volgens Telamachus is die vereniging se leuse "In liefde dien ons mekaar."
"Die vereniging probeer ook regdeur die jaar soveel as moontlik mense in die gemeenskap help met wie dit moeilik gaan."
Volgens haar is die groot uitdaging om geslagsgeweld minder te maak.
"Geslagsgebaseerde geweld begin in die huis en daarna brei dit uit."
Die optog is gelei deur die brigade-orkes van die Evangelies Lutherse Kerk onder leiding van kapt. David Julius.
'n Diens is daarna in die kerk gehou wat gelei is deur pastoor Gladys George, 'n lid van die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'