OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee vroue van Oudtshoorn, wat probeer het om dwelms en twee selfone by die Oudtshoorn-tronk in te smokkel, is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof na 'n pleitverduideliking van die jonger vrou, tot Oktober uitgestel.
Aneshia McKenna (19) het in 'n pleit-verduideliking gesê dat sy saam met haar medebeskuldigde, Anelise Rabie, na die Oudtshoorn-gevangenis is om 14 gram dagga en tik asook twee selfone vir 'n vriend van Rabie te neem.
Rabie het toe by die kafee suiker gekoop waarna hulle die dwelms en selfone daarin versteek het. Dit is egter deur korrektiewe beamptes gevind en hulle is in hegtenis geneem.
McKenna erken dat sy verkeerd opgetree het en daarvoor gestraf moet word. Die pleit is deur die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, aanvaar en sy is daaraan skuldig bevind dat sy items aan 'n persoon in die tronk wou verskaf.
Die saak is op versoek van haar regs-hulpprokureur vir proefbeampte- en voorvonnisverslae deur landdros Ntombizandile Maseti tot 17 Oktober uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'