OUDTSHOORN NUUS - Twee vrouens wat die slagoffers van 'n 19-jarige rower was, het verlede week in die hof ter strafverswaring van die skuldige getuig.
Die 82-jarige Jean Arries, oud-onderwyser van Oudtshoorn, het oor die trauma toe Geraldo Filander haar in die begraafplaas van haar motor beroof het, getuig.
Sy het met trane in haar oë getuig dat sy gereeld haar man se graf gaan skoonmaak en met hom "gesels" het.
"Dit is steeds traumaties en ek bly vir die Here vra: Het dit werklik met my gebeur? Ek wil die polisie bedank en spesiaal vir kapt Botha wat soos 'n pa baie ondersteund was."
Sy het die hof versoek om die polisie te bedank en streeklanddros Neels Nortje het haar die versekering gegee dat dit so gedoen sal word.
Filander se tweede slagoffer, Sandra Tarentaal van Dysselsdorp, het ook oor haar ervaring getuig. Sy werk in George en het daar in 'n taxi geklim wat Filander bestuur het, onwetend da thy die taxi sonder die eienaar se toestemming gebruik het.
Filander het met haar tot naby Heroldsbaai gery, met 'n mes gedreig en van haar handsak, selfoon en R800 kontant beroof.
Sy het gelukkig slegs ligte skrapies opgedoen toe sy die mes gegryp en weggehardloop het.
"Ek is vandag nog huiwerig om in 'n taxi te klim en doen dit slegs wanneer ek sien daar is vroue in die voertuig."
Filander het skuldig gepleit op die klagtes dat hy Arries van haar motor beroof het en ook twee maande later die Quantam minibustaxi van Markus Saptouw in Panoramastraat, Rose Valley, sonder toestemming geneem en daarmee na George gery en Tarentaal beroof het.
Sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof gevra om sy jeugdigheid en die feit dat hy 'n eerste oortreder is, vir vonnis in aanmerking te neem en korrektiewe toesig te oorweeg.
Die staatsaanklaer, Corne Pretorius, het betoog dat Filander aan ernstige misdrywe skuldig bevind is en 'n lang tronkstraf verdien.
Hy is skuldig bevind aan roof, die gebruik van 'n voertuig sonder toestemming van die eienaar asook roof met verswarende omstandighede en deur streeklanddros Neels Nortje tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan vier jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'