OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n jong ma van drie kinders, met vyf vorige veroordelings en wat weer van diefstal aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof tot 7 Junie uitgestel na suksesvolle mediasie met die staat.
Laetitia Gericke (24) word daarvan aangekla dat sy onderskeidelik R1 400 en R950, van twee pensionarisse, Isaac April en Lilly Manuel gesteel het deur onder valse voorwendsels hulle te oorreed om die geld aan haar te leen wat sy weer sou terugbetaal.
Hulle het haar egter nooit weer gesien nie en sy is aangekeer danksy kringtelevisiekameras by die Queens Mall.
Gericke het aan April verduidelik dat haar pa glo ‘n groot bedrag geld by die Lotto gewen het en sy ‘n groot koffer daarvoor moes gaan koop.
Vir Manuel het sy gesê dat sy medisyne vir haar baba by Clicks moes gaan afhaal waarvoor sy moes betaal.
Gericke het Donderdag van die geld aan die klaers teruggegee en is tot 7 Junie tyd gegee om die res terug te betaal.
Die saak dien voor landdros Marvin de Vos en Leandrè Rhodes is die aanklaer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'