OUDSTHOORN NUUS - 'n Vrou van Bridgton, wat haar 16-jarige seun in 2017 na 'n stryery oor kos doodgesteek het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind.
Ellen Mentoor (39) se weergawe, dat sy uit noodweer opgetree het, is deur streeklanddros Sylvia Mandla verwerp.
Mentoor het haar seun, Clinton, op 9 September 2017 met 'n mes in die nek gesteek en hy is op die toneel dood.
Die saak is in 2018 van die hofrol verwyder, maar weer later na die voltooiing van die ondersoek teruggeplaas.
Mentoor het getuig dat die oorledene die betrokke dag by die huis aangekom en kos gesoek het terwyl sy besig was om haar baba te borsvoed. Hulle het weer gestry toe die oorledene haar weggestoot en met die vuis geslaan en geskop het. Sy het daarna 'n mes op 'n kas gesien en wou net die oorledene bang maak.
Die enigste staatsgetuie, Bianca Jacobs, halfsuster van die beskuldigde, het getuig dat sy gesien het hoe Mentoor die mes uit 'n laai haal en haar seun daarmee steek. Sy het ontken dat die beskuldigde haarself verdedig het. Jacobs was volgens die landdros kalm en vol vertroue en haar nie tydens kruisondervraging weerspreek nie. Sy is familie van die beskuldigde en het geen rede om haar valslik te beskuldig nie. Haar getuienis oor die mes is ook nie betwis nie. Die hof het bevind dat Mentoor nie haarself verdedig het nie omdat sy haar seun, wat sonder 'n wapen was, gesteek het toe hy met sy rug na haar gestaan het.
"Die beskuldigde se lewe was nie in gevaar nie en sy kon 'n ander metode gebruik het om haarself te verdedig. Dit was nie 'n geval van lewe of dood nie," het die landdros gesê. Die steekwond is volgens 'n mediese verslag met groot geweld toegedien. Vonnisverrigtinge is vir 'n proefbeampte verslag tot 27 Julie uitgestel.
Mentoor is op waarskuwing vrygelaat.
Lees verwante artikel:
- Moordsaak van hofrol verwyder
- Ma wat seun doodsteek weer in hof
- Ma wat seun doodsteek weer in hof
- Opvolg: Seun deur ma doodgesteek
- Seun sterf na ma hom steek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'