DE RUST NUUS - 'n Vrou van Blomnek, wat haar voormalige werkgewer met 'n kapmes oor sy kop geslaan, en van poging tot moord skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof, gevangenisstraf van vyf jaar opgelê.
Drieka Botha (65) het erken dat sy verkeerd opgetree het en gestraf moet word.
Volgens haar het sy die oggend van 10 Oktober 2021 na die woning van Schalk van der Sand in Hoopstraat 76 gegaan omdat hy haar glo nog 'n R1 000 geskuld het vir werk wat sy as huishulp vir hom gelewer het.
Toe Van der Sand haar meedeel dat sy moet wag totdat hy sy staatstoelaag ontvang het, het sy kwaad geword en hom 'n paar keer met 'n kapmes geslaan.
Hy moes na dié voorval na die hospitaal geneem word vir behandeling.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat ouderdom nie ‘n waarborg is om uit die tronk te bly nie.
Sy is aan ‘n ernstige misdaad skuldig bevind en volgens getuienis van haar dogter, behoort die panga aan hulle, wat beteken dat sy beplan het om die bejaarde Van der Sand daarmee aan te val.
Botha se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat sy nie meer jonk is nie en direkte tronkstraf haar sal breek.
Hy het voorgestel dat sy op korrektiewe toesig geplaas word omdat sy van die begin af haar samewerking gegee en skuldig gepleit het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê dat ‘n opgeskorte vonnis nie die regte boodskap sal uitstuur nie.
Die hof het bevind dat hoewel sy vorige veroordelings het, waarvan die laaste in 1993 was, sy vir alle praktiese redes ‘n eerste oortreder is.
Sy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'