OUDTSHOORN NUUS -“Sy was ‘n vrou van min woorde, maar iemand wat nie geskroom het om haar sê te sê nie.”
So het pastoor Leon Prinsloo, AGS SWD-voorsitter, en ankeraanbieder van die gewilde gebedsversoekprogram, Deo Gloria op EDENfm, Saterdag die 63-jarige Anne-Marie Plaatjies, eggenote van sy medeaanbieder, pastoor John Plaatjies, tydens haar begrafnis in die Bridgton Apostoliese Geloof Sendingkerk (AGS) gesê.
Anne-Marie Plaatjies, wat vir meer as 30 jaar bestuurder van Clicks Oudtshoorn was, is op 3 November na ‘n lang siekbed oorlede.
Prinsloo, van die Greenhaven AGS, Groot-Brakrivier, het die Plaatjies/Lourens-familie na aanleiding van Psalm 23 getroos.
“Die Here doen niks sonder ‘n doel nie en ons moet ons daarby berus,” het Prinsloo in sy boodskap gesê, en Plaatjies geloof vir die ondersteuning wat sy vir die 20 jaar sedert die begin van Deo Gloria, aan haar man gegee het.
René Spies, visevoorsitter van die SWD AGS Vrouevereniging, het in haar huldeblyk gesê dat sy Plaatjies sal onthou as die stil en saggeaarde persoon wat sy was en die bydrae wat sy tot die vereniging gelewer het.
Anne-Marie Plaatjies, wat vir meer as 30 jaar bestuurder van Clicks Oudtshoorn was, is op 3 November na ‘n lang siekbed oorlede.
Foto’s: Garnett Wicomb.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’