OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n vrou van De Rust, wat van moord op haar kêrel aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir die getuienis van 'n dokter uitgestel.
Kerlien du Plessis (47) pleit onskuldig op die aanklag van moord en voer aan dat dit 'n ongeluk was.
Volgens haar regsverteenwoordiger, Brain Carelse, was sy en die oorledene, Isaac du Plessis (45), in 'n verhouding.
Die oorledene het die aand van 11 Februarie 2022 volgens haar dronk by die huis aangekom met 'n 2 liter bottel wyn en haar begin skel. Hy het ook op haar ma geskel.
Sy het later gesê dat sy die wyn gaan vernietig en toe 'n mes wat op die tafel gelê het geneem en die houer met die wyn begin stukkend steek. Volgens haar het die oorledene toe probeer om die wyn te gryp en het sy hom per ongeluk gesteek.
Sy het eers 'n rukkie later besef dat sy hom raakgesteek het. "Ek het nie die opset gehad om hom te steek nie," lui haar verklaring.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, dui die lykskouing daarop dat Du Plessis aan 'n steekwond in sy bors gesterf het.
Sy het die hof om uitstel gevra vir die getuienis van die dokter wat die lykskouing gedoen en nie Donderdag beskikbaar was nie.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is uitgestel tot 23 Junie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’