OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van huisbraak en diefstal na daar Maandag helder oordag by Clasina Geldenhuys se motorhuis ingebreek is en haar dogter se huishoudelike goedere gesteel is.
Geldenhuys sê sy en haar dogter woon alleen in hul huis in Oostelikeweg en hulle is gereeld slagoffers van misdadigers.
"Ek pas my kleinseun deur die dag op. Ons was Maandag in die huis en 08:00 toe ek buitentoe stap was alles nog reg. Toe my seun 17:00 sy seun kom haal het hy gesê die koperdraad van 30 meter wat onder die grond was, is uitgetrek. Toe ons gaan kyk het ons besef hulle het by die motorhuis ingebreek. Hulle het onder meer beddegoed, klere, borde, bekers en ander kombuisware gesteel."
Volgens haar was haar dogter se huishoudelike goedere in 'n kamer in die motorhuis gestoor en beloop die skade, wat die draad insluit, ongeveer R150 000.
"Die motorhuis het groot hekke vooraan wat met 'n slot toegesluit is. Daar is egter openinge bo en onder die hek en dit is waar hulle toegang gekry het. Die diewe het die kamertjie se slot oopgebreek en die huisraad onderdeur die hek gedruk. Die merke soos hulle die goed onderdeur die hek geskuif het kan mens nog sien. Dis skrikwekkend om te dink die booswigte doen sulke goed terwyl mens in jou huis is. Hulle gee nie om nie."
Die plastiekomhulsel wat van die koperdrade afgebrand is. Foto's: Liezl van Niekerk
Geldenhuys sê sy het die polisie in kennis gestel en in die straat opgeloop om te kyk of die booswigte nie iewers iets laat val het nie.
"Daar is 'n oop erf langs my huis waar die sakkrappers en dwelmgebruikers sit. Ek het daar ingestap en net die plastiek van die draad wat hulle gesteel het, was daar."
Volgens haar was daar voorheen draadheinings om haar huis gespan, maar is die heinings al oor die jare afgesteel.
"My honde kan nie buite loop nie, want die huis is nie omhein nie en die bure kla as die honde los loop. Aan die onderkant van my erf loop 'n kanaal en die booswigte en bosslapers loop graag daar. Die huis was aan daardie kant ook met heinings toegespan, maar dit is ook afgesteel."
Geldenhuys sê sy is raadop.
Sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is nog geen verdagtes in die saak nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'