OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van huisbraak en diefstal na daar Maandag helder oordag by Clasina Geldenhuys se motorhuis ingebreek is en haar dogter se huisraad gesteel is.
Geldenhuys sê sy en haar dogter woon alleen in hul huis in Oostelikeweg en hulle is gereeld slagoffers van misdadigers.
"Ek pas my kleinseun deur die dag op. Ons was in die huis gewees Maandag en 08:00 toe ek buitentoe stap was alles nog reg. Toe my seun 17:00 sy seun kom haal het hy gesê die koperdraad van 30 meter wat onder die grond was, is uitgetrek. Toe ons uit gaan om te gaan kyk het ons besef hulle het by die motorhuis ingebreek."
Volgens haar was haar dogter se huisraad in 'n kamer in die motorhuis gestoor en beloop die skade, wat die draad insluit, ongeveer R150 000.
"Die motorhuis het groot hekke vooraan wat met 'n slot toegesluit is. Daar is egter openinge bo en onder die hek en dit is waar hulle toegang gekry het. Die diewe het die kamertjie se slot oopgebreek en die huisraad onderdeur die hek gedruk. Die merke soos hulle die goed onderdeur die hek geskuif het kan mens nog sien. Dis skrikwekkend om te dink die booswigte doen sulke goed terwyl mens in jou huis is. Hulle gee nie om nie."
Sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is nog geen verdagtes in die saak nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Lees volledige berig in Vrydag se koerant.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'