OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Dysselsdorp is verlede week uit die hospitaal ontslaan na haar man haar met 'n ketel kookwater agter haar rug gegooi het.
Volgens Johanna Baartman het sy en 'n vriendin en die vriendin se baba van ses maande oud op die bank gesit toe sy en haar man stry gekry het.
"Hy het opgestaan en na die ketel geloop wat pas gekook het. Ek het gedink hy gaan tee maak. Toe tel hy die ketel op en die volgende oomblik voel ek net iets brand agter op my rug en lyf. Hy het my vriendin en haar baba ook raak gegooi en sy het brandwonde op haar skouer en haar arm, en die baba op haar arm, been en in die gesiggie opgedoen."
Baartman was bykans 'n week in die hospitaal en kon eers toe sy ontslaan is 'n klag by die polisie gaan lê.
"Ons fight was nie eers iets groot nie. Hy het ook nie die baba of my vriendin in ag geneem toe hy die water gegooi het nie. Dit is so onnodig. Ek wil nie hê vroue moet dink dit is okay as mans sulke goed met hulle doen nie, want dit is nie."
Kapt. Joey Strydom, bevelvoerder van Dysselsdorp-polisiestasie, sê die man is in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Volgens Strydom het hulle Baartman aangemoedig om 'n beskermingsbevel te bekom.
Die brandwonde op die baba se arm wat deur die kookwater veroorsaak is.
Johanna Baartman met die ses maande oue baba wat ook met die water verbrand is. Regs is Denolise Williams.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'