Update
PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albertse fotograaf, Gita Claassen, is steeds getraumatiseer nadat sy in Desember twee mans net ná 03:00 in die hoofslaapkamer van haar en haar lewensmaat, Shanelle Bothma, se huurhuis in Kerkstraat betrap het.
"Hulle was besig om in ons laaie te krap nadat hulle die huis gefynkam het. Hulle was in elke kas en laai, ook in ons seuns se kamers. Agterna blyk dit daar kon méér inbrekers gewees het.
"Die polisie het my laat verstaan 'n hele groep, tot vyf, kon betrokke gewees het," vertel sy.
Twee mans van Noordeinde in Prins Albert is intussen aangekeer nadat gesteelde goedere by hulle gevind is. Hulle verskyn op 1 Februarie in die plaaslike landdroshof.
Sy vertel sy het die betrokke oggend wakker geword en twee figure langs haar bed sien hurk, besig om in 'n laai te grawe.
Versteen het sy hulle in die donker dopgehou. "Toe stap hulle doodluiters kombuis toe waar hulle goed inpak. Ek het soos 'n ninja agter hulle aangesluip. Daar is altyd 'n kombuisliggie aan. 'n Meter van hulle af skree ek: 'Wat de f … maak julle? Wat maak julle in my huis?' Hulle het opgespring en deur die agterdeur gevlug en ek het hulle tot naby die kunsgalery gejaag en heeltyd geskree."
Terug by die huis het sy besef haar en Shanelle se selfone sowel as hulle voertuie se sleutels is weg. Sy het polisiestasie toe gehardloop en na die verdagtes begin soek. 'n Patrollievoertuig het bevestig hulle het twee mans in die straat gekry wat glo op pad was bank toe. Met behulp van 'n rekenaaropspoorprogram kon Shanelle bevestig hulle selfone is by 'n huis in Proteastraat.
Die selfone is nie by die huis gevind nie, maar is wel later in 'n veld opgespoor en twee mans is in hegtenis geneem.
Die twee vrouens het eers heelwat later ontdek dat 'n hele aantal ander items gesteel is en dat die diewe die huis rustig deursoek het terwyl die bewoners geslaap het. Hulle het deur 'n klein venstertjie toegang tot die huis bekom.
Hulle waardeer die flinkheid van die polisie, Tobie Gous van die plaaslike veiligheidsmaatskappy en die ondersteuning van die gemeenskap, sê Claassen.
Vorige artikel: Vrou betrap inbrekers
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'