OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel daar verlede week tussen 20 en 50 mm reën in die Klein- en Sentraal-Karoo gemeet is, is dit lank nie die einde van die droogte van die afgelope vyf jaar nie.
Die hittegolf wat die streek dié week getref het, het ook nie 'n goeie impak op landbou gehad nie en het tot vrektes van volstruise in die Klein-Karoo gely.
Hittegolf
Laubscher Coetzee, 'n boer van Volmoed en lid van die direksie van die Volstruisbesigheidskamer, sê dit is so dat volstruise tydens die hittegolf gevrek het, maar dit is omdat volstruise nie self kan afkoel nie.
"Volstruise sweet nie en is afhanklik van hul vere vir isolasie. Dit gebeur ongelukkig dat die voëls vrek omdat die temperature wat ons die afgelope week beleef het nie afgekoel het nie. Die hitte bly hang."
Volgens hom is dit dus belangrik dat boere genoeg skaduwee vir hul voëls het en groot en genoeg waterbakke sodat hulle nie mekaar vertrap om by die water uit te kom nie.
"Gelukkig tref boere voorsorg as hulle bewus is van 'n hittegolf soos die en is vrektes baie beperk."
Dit is nie duidelik presies hoeveel voëls gevrek het nie, maar volgens hom is hy bewus van vrektes op plase van Calitzdorp tot in De Rust.
Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klei Karoo, het Donderdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die weer wat tans in die Karoo-streek beleef word meer normaal is vir die streek en dat dit moontlik tekens van reën is.
"Boere het gelukkig geweet van die hittegolf en voorsorg tref. Daar is vitamines wat in water gegooi kan word om hittestres te verminder en dan is skaduwee van kardinale belang."
Potgieter sê, alhoewel die reën wat geval het 'n goeie teken vir saadboere was, het die hittegolf 'n negatiewe impak op groentesaadboere.
"Hulle behoort byna klaar geoes te wees, maar die hitte kan steeds 'n negatiewe impak hê," het hy gesê.
Volgens hom trek die wind en die hitte die vog na die reën uit die aarde uit en droog dit die bietjie stroompies wat gevorm het op.
'n Volstruis en haar kleintjies opsoek na koelte in die warm Karoo. Foto: Brende Brits
Reën
Potgieter sê egter hy bly positief oor die moontlikheid van reën na die hittegolf.
Volgens Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap, is landbouers in die gebied verheug oor die reën wat verlede week geval het en hoopvol dat dit opgevolg sal word met nog buie gedurende die volgende aantal weke.
"Ons is dankbaar dat die nuwe jaar op so 'n geseënde manier vir ons produsente in die Karoo begin het wat al vyf jaar onder die droogte gebuk gaan. Hoewel die reën baie hoop gebring het, is die uitkoms nog vêr," sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap in 'n mediaverklaring wat hierdie week uitgestuur is. Volgens hom is opvolgreën krities nodig vir plaas- en opgaardamvlakke en vir natuurlike weiding om te herstel.
"Produsente kan dalk een of twee jaar van ondergemiddelde reënval hanteer, maar die uitwerking van vyf jaar se ondergemiddelde reën kan waarskynlik net uitgewis word met vyf agtereenvolgende bogemiddelde jare. Ons glo verlede week se buie is die begin van 'n goeie reënseisoen vir die streek."
Dit beaam wat Laubscher Coetzee verlede week na die reën gesê het. Hy het daarop gewys dat reën hierdie tyd van die jaar 'n goeie teken is aangesien Februarie en Maart die streek se reënseisoen is. "Dit is egter nog nie naastenby genoeg nie. Vir ons om gemoedsrus oor die jaar wat voorlê te kry, kort ons nog tussen 80 en 100 mm goeie reën op die Outeniqua- en Swartberge waar ons riviere ontspring. En dan het ons weiding natuurlik ook nog goeie deurdringende reën nodig."
Intussen lewer Agri Wes-Kaap steeds droogtehulp in die Karoo, sowel as in die Matzikama-distrik van die Weskus.
Wat Oudtshoorn se watervoorraad betref het die reën die damvlak effens laat styg, maar volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, moet daar in gedagte gehou word dat landbouers hierdie tyd van die jaar geregtig is op water vir besproeiing en dat water wat vir hulle vrygelaat word die invloei van die afgelope reënbui uitkanselleer.
Klein Kobus Esterhuizen (2) speel in die blombedding voor hul huis op Oudtshoorn na die reën wat verlede week geval het. Foto: Chrizaan Esterhuizen
Damvlakke
- Raubenheimerdam: 40,46%
- Melvilledam: 100%
- Stompdriftdam: 5%
- Kammanassiedam: 2%
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'