OUDTSHOORN NUUS - Vrese dat die groot swerm sprinkane wat die Klein-Karoo die afgelope week binnegeval het dalk die opkomende Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se bedrywighede in die wiele kan ry, is in dié stadium ongegrond.
Oudtshoorn het die swerms tot groot mate vrygespring en dis meer Prins Albert, Meiringspoort en veral ook Calitzdorp wat dié week erg deurgeloop het.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het vanmiddag gesê dis nog twee weke voor die fees op 29 Maart afskop, maar in dié stadium lyk dit nie of die sprinkane enige groot bedreiging vir die fees inhou nie.
"Ons monitor die situasie, maar glo darem nie dit sal enige invloed op die fees sal hê nie."
Die Klein Karoo is nie juis bekend vir sprinkaanplae nie, maar die Sentraal-Karoo wel.
Teen Dinsdag is 'n groot swerm buite De Rust in die Gamkaskloof opgemerk. Ook vanuit Prins Albert, in die rigting van Schoemanskloof, het swerms hoofsaaklik in die vlieër-stadium inbeweeg.
Daar heers ook kommer oor groot swerms wat in Caltizdorp en omliggende omgewing voorkom.
En in Meiringspoort het 'n groot swerm vanmiddag op die lusernlande, doringbome en grasperke op talle plase toegesak en verwoesting gesaai.
Phillip Kemp, 'n ou bekende sprinkaanplaagbeheerder in die Oos-Kaap, sê 'n tekort aan die regte soort geregistreerde gif, asook voldoende spuittoerusting skep groot uitdagings aan die spanne wat die plae moet spuit.
"Die groot kopseer is om swerms in die vlieër-stadium te spuit, want dit kan net met lugondersteuning gedoen word."
Kemp sê die voetgangersprinkane is wel die maklikste om te beheer omdat hulle saamdrom en redelik onaktief is.
'Ons bring jou die nuutste Oudsthoorn, Karoo nuus'