Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die bestuurder van 'n vragmotor wie se bene tydens 'n ongeluk vasgepen is, is bykans drie ure na die ongeluk bevry en is skynbaar nie ernstig beseer nie.
Die vragmotor was deel van 'n groep wat gruis aanry vir padwerke wat deur die Garden Route Distriks-munisipaliteit onderneem word.
Die vragmotors was met 'n grondpad tussen Matjiesrivier en Lategansvlei onderweg met vragte grond toe die een vragmotor omstreeks 12:50 die pad verlaat het en omgeslaan het.
Die vragmotor het op die bestuurderskant te lande gekom en die bestuurder se bene vasgepen.
Reddingswerkers kon daarin slaag om een been te bevry, maar het meer as twee ure gespook om die bestuurder se ander voet ook los te kry.
Dele van die vragmotor se deur en dak is afgesny en verskeie panele in die kajuit moes verwyder word om die voet los te kry. 'n Ander vragmotor is teen die vragmotor wat op die sykant gelê het, getrek om te keer dat dit dalk verder omval terwyl reddingswerkers besig was.
Hy is per ambulans na 'n hospitaal op Oudtshoorn geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Reddingswerkers het meer as drie ure gespook om die bestuurder los te kry:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'