Update
PRINS ALBERT NUUS - 'n Voormalige persoonlike assistent van die munisipale bestuurder van Prins Albert, wat aan verkragting skuldig bevind is, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tien jaar tronkstraf opgelê.
Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging van Richard Franzen (36) gesê die hof kon nie enige dwingende omstandighede vind, om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis nie.
Franzen het op 'n dag in April 2015 'n 19-jarige hoërskoolleerder in sy huis verkrag. Hy het haar hande en voete vasgebind, haar geblinddoek en ook 'n lap in haar mond gedruk sodat sy nie om hulp kon skree nie.
Volgens die landdros toon Franzen geen berou vir sy optrede nie. Hy het na sy skuldigbevinding selfs 'n selfoon stemnota in die gemeenskap versprei waarin hy die klaagster se karakter verder aangetas het.
Volgens 'n slagofferimpakverslag voor die hof is sy so erg getraumatiseer dat sy hospital toe moes gaan, steeds slapelose nagte ervaar en by twee geleenthede probeer het om selfmoord te pleeg. Sy het begin drink en uit vrees vir Franzen later met 'n mes geloop.
Franzen het ter strafversagting getuig dat hy in 'n Christelike huis grootgeword het met waardes en norms. Hy was glo "die gesig van die munisipaliteit in die gemeenskap en diep betrokke in projekte om die jeug op te lei en te bemagtig." Hy het egter in 2018 sy werk as kantoorbestuurder van die munisipale bestuurder bedank omdat dit, volgens hom, "'n impak op sy werk" gehad het.
Hy sien nou om na sy twee dogters omdat sy vrou die enigste broodwinner is. Dinge tussen hulle het egter na sy skuldigbevinding versleg en het sy op 'n keer 'n beskermingsbevel teen hom verkry. "Ons is egter weer versoen," het hy Donderdag getuig.
Sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof vir afwyking van die voorgeskrewe vonnis gevra omdat daar wel "substantiewe en dwingende omstandighede daarvoor bestaan".
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter nie saamgestem nie en gesê Franzen is aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind waarvan die Suid-Afrikaanse statistiek die hoogste in die wêreld is. "Die minimum vonnis van tien jaar is in baie gevalle te min en daar moet 'n sterk boodskap uitgestuur word," het sy gesê.
Die landdros het ook benadruk dat die verkragtingsyfer in die hof se bedieningsgebied skokkend hoog is en 'n kanker in die gemeenskap geword het. So het inwoners van Prins Albert sowat twee weke gelede 'n plakkaatoptog na die hof gehou waar vermeende verkragters verskyn het.
Volgens die landdros het Franzen se slagoffer sowel as haar ma hom vertrou, maar is hulle teleurgestel. Volgens die landdros sal 'n opgeskorte of korrektiewe vonnis "skokkend onvanpas" wees.
Hy het twee vorige veroordelings van aanranding en aanranding om ernstig te beseer.
Franzen is op 18 Maart vanjaar nadat hy reeds skuldig bevind is aan verkragting, op Prins Albert in hegtenis geneem nadat hy hom teen arrestasie verset het toe die polisie hom op 'n klagte van gesinsgeweld in hegtenis wou neem.
Hy word ook van dronkbestuur en aanranding van 'n polisiebeampte aangekla.
Lees 'n vorige artikel: Lasbriewe vir getuies wat hofdatum ignoreer
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'