CALITZDORP NUUS - Die 65-jarige man van Calitzdorp, wat teregstaan op nege aanklagte wat met seksuele misdrywe van minderjariges verband hou, het op 13 September in die Oudtshoorn-streekhof verskyn.
Die man se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan nie genoem word voor hy gepleit het nie.
Een van die klagtes is verkragting terwyl die res van die klagtes met seksuele aanranding en die wys van pornografie aan minderjariges verband hou.
Die bejaarde man is op 4 November verlede jaar in hegtenis geneem en het in die Calitzdorp-landdroshof verskyn.
Die man is op 8 April vanjaar op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het verlede week aangedui dat sy kliënt moontlik 'n pleitooreenkoms met die staat wil aangaan.
Landdros Daniël Boks het die saak tot 15 Oktober uitgestel sodat die staat na die ooreenkoms kan kyk.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'