OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 23 grondeienaars het ingestem om hul eiendom by bewaringsgebiede in die Klein-Karoo te voeg.
Deur middel van voogdyskap-ooreenkomste met die 23 grondeienaars, word 45 615 hektaar grond by die bestaande gebiede wat deur CapeNature se voogdyskapprogram bestuur word, gevoeg.
Die grond grens aan CapeNature se Anysberg Natuurreservaat naby Ladismith in die Klein-Karoo, en die Vrolijkheid Natuurreservaat naby McGregor in die Breëderiviervallei.
Die doel met die voogdyskap is om die sensitiewe plantegroei in hierdie gebiede te beskerm.
Hierdie spesifieke voogdyskap-program is die eerste fase van 'n gesamentlike loodsprojek van World Wild Fund Suid-Afrika (WWF-SA) en CapeNature.
Die grond bly die eiendom van die grondeienaars in die Klein- Karoo en Breederiviervallei, maar word deur CapeNature bestuur ter wille van beter benutting as landbougrond, of as volwaardige natuurbewaringsgebiede.
Indien die grond aangekoop moes word, sou dit sowat R90 miljoen gekos het, maar omdat die grond gratis tot CapeNature se beskikking gestel word, het die projek minder as R5 miljoen gekos.
Die geld is deur die Leslie Hill Sukkulente Karoo-trust, wat deur WWF administreer word, beskikbaar gestel.
Plantegroei in die gebiede word onder meer bedreig deur onvolhoubare boerderypraktyke, gronderosie en diefstal van die skaars en bedreigde plantegroei wat kenmerkend van die sensitiewe gebiede is.
Gedurende die tweede fase sal die projek daarop fokus om die grondeienaars te help om die sensitiefste areas van die grond ten beste te bestuur.
Daar sal ook bestuursplanne vir die gebiede finaliseer word en dit sal as bewaringsgebiede geproklameer word.
Die doel van die program is om uiteindelik 'n netwerk van eiendom te bewaar terwyl die grond steeds deur eienaars en plaaslike gemeenskappe vir ekonomiese aktiwiteite soos landbou of toerisme gebruik kan word.
Volgens Jan Coetzee van WWF-SA, wat die organisasie se Sukkulente Karoo-program bestuur, is dit duidelik dat die voogdyskapprogram die beste en mees kostedoeltreffende manier is om bewaringsekerheid veral in gebiede soos die Klein-Karoo te weeg te bring.
"Dit verseker ook 'n nuwe generasie grond-eienaars met nuwe vaardighede en opgewonde en toegewyd is tot bewaring omdat hulle die ekonomiese voordeel van 'n belegging in die omgewing ervaar.
Volgens Garth Mortimer van CapeNature verskaf die finansie-ring vir die projek die bewaringsinstansie die geleentheid om noodsaaklike inligting en kundigheid aan grondeienaars te verskaf wat graag die biodiversiteit op hul grond wil bewaar.
"Die ooreenkomste met grondeienaars hou besliste voordele vir biodiversiteit in."
Die projek help met die bewaring van be-langrike bedreigde vetplantspesies, bewaring van die loopgebied van diere soos die luiperd en aardwolf, die verskaffing van inligting aan grondeienaars oor onder meer die beheer van indringerspesies en erosiebeheer, die uitbreiding van gebiede om belangrike biodiversiteits-korridors te skep, en die bewaring van natuurlike hulpbronne soos brandhout met behulp van Wonderbags.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'